Jump to content

Twee jaar later


Dreamcatcher

Recommended Posts

Vandag is dag een van jaar 3. Voel ek anders? Nee, nie regtig nie.

Snaaks hoe alles om ons verander, maar hier binne voel ons meestal dieselfde. As ek terugkyk dan kan ek wel sien hoe ek, saam met my omstandighede gegroei en verander het.

Gister was ons 2 jaar herdenking van die "Groot Trek" Daai dag toe ons met ons groot pakkaas op die vliegtuig geklim het en SA totsiens gewaai het. Bittersoet herinneringe. Ons was opgewonde oor die vlug, die kinders was nog nooit op 'n vliegtuig nie, en ek en manlief nog nooit uit die land nie. Ek voel nou nog die beklemming om my hart as ek terugdink. Daar was nie veel familie om ons vaarwel te wens nie, my broer en my suster. Hulle was heel neutraal, het nie allerhande opmerkings gemaak oor ons die land wil verlaat nie. Daar was baie grappies en lekker gesels. Ons oudste se mond was dik omdat hy nie mag Coke kry 10 minute voor ons aan boord gaan nie... Niks van die tranedal wat ons verwag het nie. Van skoonpa en -sus was daar nie 'n teken nie. Dis te ver - hulle het nie geld nie - hulle het nie tyd nie. En dis net om lughawe toe te gaan! Moes toe al geweet het dis hoe dit altyd sal wees.

Ekself het nie baie naby familie nie, net my broer en 4 susters waarvan een in Sydney woon. Manlief het nog vir Pa en Sussie, altwee oumas en baie ooms en tannies. Oupa is oorlede 6 maande voor ons Aus toe is. Die gebrek aan familie (ouers) het my laat dink dat dit vir my makliker sal wees om aan te pas. Dit is nie. Elke keer as my vriende se ouers kom kuier van SA af ruk dit 'n gat in my hart. Ek wens ek het ook ouers gehad waarmee ek my nuwe lewe kon deel. Skoonpa is weer getroud na ons weg is, en sy nuwe lewe is nou by haar en haar gesin. Ek is bly dat hy nie meer alleen is nie, maar ek wens dat hy meer aandag aan sy seun en sy kleinkinders wou gee.

So het ons dan in Perth aangeland. Ietwat senuagtig deur doeane gegaan. Toe hulle ons sak met skoene oopmaak het my hart amper gaan staan. Daar was 'n paar steelcaps in, en hy wou dit sien. Daar was nog so bietjie SA stof aan, en na al die horror stories wat ons gehoor het oor doeane en stof en grond, was ek nie bietjie benoud nie. Die amptenaar het dit so gekyk en gelag. "No worries, mate - these are nice and clean! Sometimes we get them with clumps of earth stuck to them. That's what we look for." Toe na die forex desk om ons paar randjies om te ruil vir dollars. Ons is verstom oor al mense wat so glimlag en vriendelik is!

Die son was so skerp en die lug so helder soos ons nog nooit ervaar het nie. Ek het wraggies nog nooit sulke blou lug gesien nie! Ons is vriendelik ontvang deur manlief se werk, en in 'n bus geboender na die domestic lughawe toe, om daar ons vlug te vang die boendoes in.

Hier land ons op 'n snikhete somersdag, in die middel van nêrens. Al wat ons sien is rooi grond, hittegolwe en swart kraaie. Die lughawe lyk modern, maar klein. Vir 'n oomblik is ek effe verdwaas, waar is die dorp? Daar is geen teken van lewe nie! Weer word ons bagasie en al in busse geboender. Moeg, warm, honger en sommer net op. Steeds verstom ons ons aan die mense wat ons ontvang se jovialiteit. By die lughawe se hekke uit begin dit darem beter lyk, en begin ons die tekens sien van beskawing.

Ons slaap die res van die middag en die hele nag. Die volgende dag voel ons meer mens en begin ons omgewing verken. Baie verbaas stap ons in Woollies rond. Daar is so baie vreemde dinge, maar tog so baie bekende dinge. Cadbury en Nestlé, en nog baie ander. Word sommer daar in die winkel voorgekeer deur ander SAners en nommers uitgedeel. Ons eerste kontak met 'n uitgebreide netwerk van SAners in die dorp. Groot was ons verrassing en verwarring toe ons by die betaalpunt kom en die vrou vra ewe vriendelik hoe dit met ons gaan! Skamerig antwoord ons terug, en dadelik tel hulle die rou aksent op. Dit word een lang gekuier. "Where are you from? How long have you been here?" En so aan en so aan. Elke keer as jy by 'n winkel kom en jou mond oopmaak kry jy omtrent dieselfde reaksie. Een van blye verrassing en belangstelling. Jy voel skielik welkom. Mense op straat glimlag vir jou - sonder bose bybedoelings. Die son skyn helder. Dis net die verdomde kraai wat klink of hulle jou uitlag. Jy leer gou die Aussie Salute om die vlieë uit jou gesig te hou.

Dan stop die vakansie en begin die lewe. Huis soek, kar soek, bankrekeninge, telefone en al daardie dingetjies wat ons nodig het. Die eiendomsagente is meestal ongeskik en laat jou voel jy skuld hulle iets. Ons is gelukkig en kry 'n jongetjie wat pas begin het, en hy gaan uit sy pad om te probeer help. Ry ons tot rond in sy eie kar. Ongelukkig het sy agentskap nie die soort huise wat ons in belangstel nie. Hy gaan nog ver kom in die lewe, die outjie. Die motor agente is ook nie van die vriendelikste nie. Dis asof hulle nie nodig het om besigheid te jaag nie. Weereens is ons gelukkig om as verkoopsman 'n jongetjie te kry wat nog wil help. Ongelukkig moes ons daarna die geldsake reel met 'n baie norse man. Hy het darem vriendeliker geraak toe ons na drie maande 'n tweede voertuig by hulle koop.

Ons ontmoet gou 'n hele klomp SAners, en hou SA kerspartytjie, so twee weke na ons hier aangekom het. Dit was lekker, maar ons was nog vreemd en ons SAners meng mos nie gou met nuwe mense nie. Ons ry in die dorp rond en verkyk ons aan die kersliggies. Na elke straat kyk ons vir mekaar en dink aan hoe lank dit op sou wees in SA voor iemand dit steel. Dit vat 'n lang tyd om daardie manier van dink te verloor! Ons gaan sing kersliedjies in die park, en gaan Afrikaanse kerkdiens toe, net so voor Kersfees.

Ons kry 'n huis en trek in met ons paar goedjies, die res is nog op die skip. Dis half lekker om so uit te kamp in die half leë huis. Daar is nie so baie om skoon te hou nie!! Ek kry 'n deeltydse werk, al het ek besluit ek wil nie werk in die eerste jaar nie. Dit gebeur net.Ons hou Kersfees met 'n paar mense wat saam met ons oorgevlieg het. Nuwejaar kom en gaan sonder veel fanfare.

Die kinders gaan skool toe, manlief werk lekker. Minder stres, rustiger omgewing en minder ure weg van die huis af. Met my ook by die huis behalwe Maandae, weet die twee van ons nie aldag wat om met mekaar aan te vang nie! Dis 'n hele nuwe ervaring. Ons sluit aan my die gym, gaan stap in die parke, hou piekniek, gesels en geniet mekaar se geselskap vir die eerste keer in jare weer. Ons maak vriende met die Aussies oor die straat, en deur hulle ontmoet ons soveel ander mense wat vandag deel uitmaak van ons uitgebreide vriendekring. Ons gaan na kerrie-aande en Monopoly aande toe, ons gaan kyk opvoerings by die kleinteater. Dinge wat ons nooit vantevore gedoen het nie. Vir ons is die lewe hier so rustig en ontspanne. Ons worry eintlik omdat ons nie veel het om oor te worry nie! Maar dit het nie lank gehou nie. Die lewe het maar 'n manier om na normaal terug te keer.

Die jongste twee van ons drie kinders het in SA al gesukkel op skool, en hulle sukkel hier ook. So ons moet iets doen om te help. vat hulle na die Pediater toe en kry verwysingsbriewe vir verdere evaulasie. Intussen val die oudste van 'n maatjie se fourwheeler af. Skryf die fiets af, maar hy kom gelukkig daarvan af met 'n helse knop op die kuit en 'n stukkende lip. Ons weet nie waar om ons koppe in te steek nie, want ons kannie die fiets vervang nie. Die mense is ongelooflik gaaf. Al waaroor hulle bekommerd is, is of die kind OK is. Soos hulle sê: versekering kan die fiets vervang maar nie die kind nie. Ons het gedink hulle gaan baie kwaad wees!

Nog in die herstel van hierdie skok, gaan laai ons ons dogter op by vriende so twee blokke van ons af. Die foon lui, dis die polisie. Julle huis brand, kom asb. dadelik. Manlief dink dis iemand wat hom 'n poets probeer bak, en sê hulle moenie sulke grappe maak nie. Toe was dit nie 'n grap nie. Ons ry huis toe en daar staan twee brandweerwaens op die sypaadjie. Ek dink glad nie meer brandweerwaens is mooi nie. Ek word koud elke keer as ek een sien.

Ons slaapkamer en badkamer is heeltemal verwoes, en die res van die huis pikswart. Die maande wat hierop volg is my gemoed ook pikswart. Dit vat drie maande voor die laaste vakman die deur agter hom toetrek. Ons maak nog steeds goed skoon wat vol roet is. Die pediater se verwysingbriewe is verlore in die brand, en ons skuif daardie dinge vir 'n rukkie op die agtergrond.

Op ons eerste herdenking van die "Groot Trek" braai ons saam met vriende in die park. My seun is by 'n maat, en bel om te vra of hulle na ons huis toe kan ry met hulle fietse, so vier blokke ver. Dis omtrent tienuur in die aand, maar dis redelik veilig, en dis nie ver nie. Ons sê ja. 'n Halfuur later kry ons 'n oproep. Daar was 'n ongeluk, niemand het seergekry nie, maar ons moet kom. Ons spring in die kar en jaag. Die kinders het op die sypaadjie gery met hulle fietse toe een dronk moroon sommer met sy "Ute" op die sypaadjie klim en vir hulle mik. My seun skrik hom lam en spring van die fiets af, die ander seun jaag in die eerste erf in. Hulle ry bo-oor my kind se fiets. Ons het hom nog - hou hom vir 'n soewenier. Volgende dag staan my kind, skouers regop voor die War Memorial en lê die krans vir Rememberance Day namens die Air Force Cadets, maar hy is nog baie bleek. Die moroon word vasgetrek en sy lisensie opgeskort.

Nog 'n Kersfees en Nuwejaar kom en gaan, en ons tafel is vol vrolike vriende. Dis 'n voorreg om feesdae met soveel wonderlike mense te kan deel. Ons bou vir ons ons eie familie op hier in Aus. Ons het vir ons 'n ma en 'n pa aangeneem, en het sommer baie vriende. Goeie mense wat jou bystaan, maar nie jou drumpel deurtrap nie.

Ek kry werk in die rigting waarin ek nog altyd wou gaan, rekenaars! Ek is in die sewende hemel. Ek geniet die werk terdee, al is die omgewing nie altyd van die beste nie. Was al twee keer die "victim" van insidente. Dit maak my baie hartseer om te sien dat mense so baie het, en dit nie waardeer nie. Tog is my werksomstandighede van die beste, en werk ek saam met die wonderlikste span mense.

Elke dag voel ons meer en meer tuis hier. Ons loop in die strate en sien elke dag mense wat ons ken, en kan groet. Dit laat ons amper voel soos locals. As jy die koerant oopmaak en jy ken die gesigte en name daarin, dan voel jy al soveel nader aan die land wat jy nou huis noem. Die een ding wat ek die meeste mis van SA is die gevoel van behoort. Om min of meer te weet hoe die land lê, en waar plekke is, wie mense is. Dit het baie gehelp om 'n boek te lees met feite oor Aus, maar dis nog steeds nie die kennis van iemand wat daarmee grootgeword het nie. Hierdie gemis word elke dag 'n bietjie beter. Ek praat nog steeds Afrikaans met my kinders en sal dit altyd doen, want hulle is nie meer klein nie. Ek luister Afrikaanse musiek, want dit was nog altyd my passie. Ek is seker Kalahari se nr.1 kliënt. As ek so na die Skouspel en Kaapse Jol DVD's kyk, dan verlang ek met 'n vengeance. Maar die oorwegende gevoel in my hart is seer. Seer dat ons lieflike land so agteruitgaan, en dat ek nie meer welkom en veilig kan voel in die land waar ek gebore is nie. Dat ek nou my vrede en my lewe, en die van my kinders, hier in 'n vreemde plek moet kom vind. Gelukkig vir ons vind ons Australië is 'n baie vrygewige land, hy gee sy vreugde en sy vrede en veiligheid met mildelike hand. Hier voel ek as mens dat my lewe iets werd is, en dat ek iets beteken vir die breër samelewing. In SA het ek gevoel ek lewe net om te werk om geld te verdien om kop bo water te hou en my kinders dag na dag gevoed te kry. Ons het liewer nie te ver in die toekoms ingekyk nie. Kon ook nie - dit was te donker....

Nou kyk ons vorentoe na twee jaar hier, en weet ons sal nie sommer weer teruggaan nie. Ons is bederf met die rustige pas van die lewe. Die veiligheid en die stabiliteit. Ek weet hier is 'n toekoms vir my kinders, al doen hulle nie te goed op skool nie. Daar is soveel hulp en ondersteuning, dit raak soms oorweldigend.

Hier het al soveel dinge met ons gebeur in ons nuwe land, maar dit gaan ons nie terughou nie. Ons sal elke uitdaging aanvaar en deurgaan met dieselfde moed en volharding wat ons die immigrasie deurgemaak het. Soos al honderde kere gesê is: Immigrasie is nie vir Sissies nie. Dis vrek moeilik. Soms voel dit asof my hart uit my lyf geskeur word van verlange, na Tafelberg, my familie, die wildtuin, chillie bites, Steve Hofmeyr, 7de Laan en Kyknet om net 'n paar te noem.

Ons klink vandag 'n glasie op nog baie gelukkige jare vir ons hier in Aussieland, en dat dit eendag vir ons werklik 'n tuiste sal wees, en nie net 'n tweede huis nie.

Groetnis,

Dreamy

Link to comment
Share on other sites

Elke dag voel ons meer en meer tuis hier. Ons loop in die strate en sien elke dag mense wat ons ken, en kan groet. Dit laat ons amper voel soos locals. As jy die koerant oopmaak en jy ken die gesigte en name daarin, dan voel jy al soveel nader aan die land wat jy nou huis noem. Die een ding wat ek die meeste mis van SA is die gevoel van behoort. Om min of meer te weet hoe die land lê, en waar plekke is, wie mense is.

Hoor! Hoor! Ek klink 'n glasie saam met julle!!! Wel gedaan, mag julle in die toekoms net voorspoed en geluk ervaar in hierdie land wat ons besluit het om aan te neem!!!

Dankie vir die deel!

Lovies

Nilo

Edited by Nilo
Link to comment
Share on other sites

Hi Dreamy

Vir my wat nou maar eers met die proses begin het, is dit lekker om jou refleksie oor die afgelope twee jaar te lees. Ek verlang sommer saam met jou na die bekende dinge en dit terwyl ek nog hier in RSA sit, want ek weet dit wag op my! Ek hoop ek kan ook oor drie jaar sê dit was moeilik, maar dit was goed. Hoe het jou kinders aangepas? As hulle moet reflekteer, wat sou hulle sê?

Lekker week!

Sonja

Link to comment
Share on other sites

Veelsgeluk, Dreamy, :ilikeit:

Die eerste 2 jaar is vir meeste die moeilikste. Daarna is dit eintlik gelyk-pad.

Kyk net vorentoe, een van die dae is julle geregtig op Burgerskap, en as jy eers daardie Blou Boekie met die micro chip digital passport in jou hande hou, dan weet jy: "I'm an Australian now..."

Groete,

Dax

Link to comment
Share on other sites

Hi Dreamy

It certainly has been a long road, congratulations, I trust that all will just get better and better.....just around the corner you will find that you have been here ten years.....what a celebration that will be!

Link to comment
Share on other sites

Baie dankie vir jou storie wat jy gedeel het. Ons is binnekort op pad en is baie opgewonde oor die skuif. Ons klink 'n glasie saam met julle en so baie ander Suid Afrikaners en hoop Australie word vir ons almal 'n tuiste en nie net 'n tweede huis nie!

Link to comment
Share on other sites

:) Baie geluk met die anniversary! Mag julle net meer en meer geseen word in jul nuwe tuiste!

Groete

Henry en Elize :)

Link to comment
Share on other sites

Hoe het jou kinders aangepas? As hulle moet reflekteer, wat sou hulle sê? Sonja

Hi Sonja,

Ek het nou net my seun (C, amper 15) en sy vriend (J, 14 - ook van SA) gevra wat dink hulle van die immigrasie proses. Hulle responses was as volg:

C: Cool

J: Lekker

Wat mis julle van SA?

J: My vriende

C: Mmmm

Wat hou julle die meeste van in Aus?

C: Die veiligheid.

Sal julle wil teruggaan?

J: Neverrrrrrr

C: (Kyk my net aan of van lootjie getik is...)

Dis amper asof hulle nog nooit iewers anders gebly het nie. Hulle mis almal hulle maats, maar ek onthou nou nog hoe ek my skoolmaats gemis het die kere wat ons net van dorp verhuis het. So dit is heeltemal normaal.

Kyk net vorentoe, een van die dae is julle geregtig op Burgerskap, en as jy eers daardie Blou Boekie met die micro chip digital passport in jou hande hou, dan weet jy: "I'm an Australian now..."

KANNIE WAG NIE!!!!! Net om manlief te oortuig daarvan. Hy klou nog so bietjie aan sy SA wortels, maar ek glo hy sal wel eendag die lig sien. Ek ken hom maar so. Moenie aan hom druk en trek en karring nie. Hy sal self sy besluit neem wanneer hy reg is daarvoor. Ek is geduldig. Maar ek is reg - NOU. Dit gaan 'n lang wag wees, maar die moeite werd. Net soos die tien jaar wag om hier te kom, maar dit is n hele ander storie.

Dankie vir julle almal se goeie wense, ek waardeer dit.

Groetnis,

Dreamy

Link to comment
Share on other sites

Hi Dreamy

Dankie vir jou terugvoer. Ek het gesmile want dit klink presies soos 'n tienerseun se antwoorde klink - eenlettergrepige woorde :) . Ja, die maats ding is heel normaal, vir ons as grootmense ook. Ek is bly om te sien hulle cope so goed. As ons oor 2 jaar daar aankom, sal my dogter 13 wees en my seun 11. Hulle is baie opgewonde om te gaan want hulle is vrek bang hier in RSA, maar ek het gedink mens moet hulle seker ook laat tred hou met realiteit en dat hulle besef dit gaan moeilik ook wees, sonder om hulle geesdrif te demp. Maar dit klink vir my of die kids oor die algemeen maklik aanpas.

Groete

Sonja

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...