Jump to content

Die Waterberg Karakters


Guest mauritz

Recommended Posts

Guest mauritz

Ek vat julle Waterberg toe – die jaar is ‘89’ – die jaar om die verkiesing in Suidwes. Waterberg is ‘n 40 000ha plato in die middel van nêrens – ‘n unieke plek, ‘n plek waar alles gebeur. Ek is gou ‘n SENIOR veldwagter daar – ek is blykbaar iets, maar ek word niks betaal nie. Ek het meer geld in die army gekry.

Saam met ons werk hierdie Afrikaner Bul – die man is groot, harig, lelik, ongeskik, bedonnerd en alles deurmekaar – maar hy is ‘n karakter. Hy kan nie ‘n woord Ingels praat nie – hy glo net in “Yes, No en F@#K you.” Hy was eers ‘n Paneelklopper, nou ‘n veldwagter. Hy is jonk, maar hy rook ‘n pyp en hy het ‘n groot baard. Hy maak sy eie ‘weights’ van dromme met konkreet in en die man is vreeslik sterk. Hy ruk daai dromme rond soos lollipops, raak al rooier en kwater en die swartes sê net “HAU!!” Na hierdie sessies van hom is hy so bed@nnerd soos ‘n swart renoster bul vir dae.

Eendag sien ek hom gesels met 2 meisies in ‘n Renault – hy steek sy kop by die bestuurder se venster in – sy hande is buite – hy staan op en hy lig daai Renault so met sy nek op – die ding staan op 2 wiele en die meisies giggel benoud. ‘n Ander keer sukkel ‘n paar van die swartes met ‘n 200L petrol drom – vol petrol. Die Afrikaner Os begin vloek en skel – hy spring op daai Hilux, gryp daai drom – tel die ding op en gooi dit van die bakkie af. Kyk die man is sterk en as hy kwaai raak dan verdwyn almal net.

Sien die swart veldwagters maak vriende met hom – as hulle probleme in die lokasie het – iemand skuld hulle geld of iets, dan vat hulle hom saam na waar hulle drink. Almal in die area is vrek bang vir hom – dan betaal hulle vinnig. So, hy is almal se pal en almal is bang vir hom.

Daar kom ‘n nuwe ‘veldwagter’ aan – hy is van Durban af, ‘n regte surfer – hy kan nie ‘n woord Afrikaans praat nie. Hy weet niks van die bos af nie en hy hou van die swart girls – sien, nou kan julle dink, hoe die twee nou oor die weg kom.

Die Afrikaner Os bly in die dorp saam met sy ouers en die Ingelsman en ‘n paar ander bly saam met my in ‘n huis.

Ek gaan eendag Otjiwarongo toe – die Afrikaner Os wil saam – ons ry met Natuurverwarring se Hilux. Hy ry so ‘n opgewarmde Datsum bakkietjie – weet nie hoekom nie, want hy pas nie lekker in die ding nie – seker maar omdat ons so min geld kry. Ek moet nou eers langs die bakkietjie stop – hy haal ‘n m@erse groot olifantgeweer uit en sit dit tussen ons in die Hilux. Ek kyk die storie so, maar vra niks nie – dalk wil hy dit invat om reggemaak of verkoop te word. Nou ry ons, hy rook pyp – ons ken mekaar nie, so ons gesels min. Elke keer as ‘n wit bakkie van voor af kom, dan hou hy op suig aan daai pyp – hy loer daai bakkie so en hy sak laer af in daai sitplek – ek loer die storie so.

In Otjiwaronge is die man benoud, man – hy loer na almal en al daai wit bakkies – hy suig daai pyp – die bakkie lyk soos ‘n steenkool lokomotief. Ek gaan doen dinge in die dorp, hy wil nêrens heen nie, hy sit in daai bakkie, sy hand op die olifant geweer. Ek kry snuf in die neus – die bliksem is of mal of daar is ‘n slang innie gras. Hy jaag my orals aan en ek begin rooi om die kiewe raak – olifant geweer of nie.

Oppad terug vat ek hom aan – “jy kom nie weer saam met my nie man – wat is fout met jou, sien jy blou olifantjies of wat – waarvoor klou jy daai peashooter so vas?” Eers wil hy niks praat nie – sien ek hou aan – “jy moet iemand gaan sien man – ‘n groot sterk man soos jy wat bang is vir blou olifantjies – waar hy jy nou al so iets gesien.” Sien, ek weet watter knoppies om te druk.

Later begin hy my die storie vertel, terwyl hy aan daai pyp suig. Hy kuier by die vrou oppie dorp, sy is baie, baie ouer as hy. Sien, ek kan nou nie vertel wat hulle alles aanvang nie – al hierdie ‘boude en tieties sites’ op die Net sal onmiddellik toemaak – hulle gedoentes sal al die sites soos Wielie Walie laat lyk. Al wat ek kan sê is dat van hierdie gedoentes sluit in dat die harige man nou in haar huis rondloop met haar g-string aan en hy het ‘n bietjie lipstick aan. Sy loop rond met ‘n lat en julle weet wat. Sien, nou is ek geskok man – ek loer hom so – lipstick en ‘n g-string??? Jy kan ‘n gorilla lipstick aansit en die aap sal sexy lyk teen die Afrikaner Os – sies man. Ek skuif sommer nader aan die deur en sit my seatbelt aan. As hy aan my hand gaan vat, dan trap ek daai briek en hy kan deur daai windscreen vlieg en vasklou aan die bullbar tot ek stop op Waterberg. Hy kyk so na sy gat – hoe groot moet daai vrou se boude nie wees nie. Ek kry hoennervleis as ek dink hoe daai G-string aan daai man se gorilla boude lyk – agge nee man – ek sien ‘n skeel hoofpyn aankom.

Sien, al hierdie gedoentes wat hy my vertel laat my amper die bakkie omgooi. Ek sal nie eers van dit probeer met daai opblaas poppe nie – julle weet mos – daai met die wille oë en oopbekke – lyk soos ‘n platanna wat deur ‘n trekker getrap is. Ek mag dalk my langlies trek.

In elke geval – hy parade nou so in haar huis en die deur vlieg oop – haar man het opgedaag, blykbaar het hy al lank snuf in die neus. Die Afrikaner Os skrik sy lipstick af en daar gaat hy – klere in die een hand, by die deur uit. Hy vertel my, soos hy deur die roostuin hardloop, probeer hy daai g-string afkry – so sterk soos wat hy is, wil die dingetjie net nie affie. Hy trek blykbaar so hard, hy is van balans af – sy een been hardloop nou so bakbeen en hy flos homself nou lekker soos hy vir daai heining mik. Sien, die dorpies is klein en binnekort weet almal. Die kwaai eggenoot laai sy 303 en gaan na die Afrikaners Os se ouerhuis toe – “ek gaan die bliksem skiet, niemand dra my vrou se onderklere in my huis nie.” Sien , alles gebeur op Waterberg – nooit ‘n vervelige oomblik nie. Nou loop die Os met ‘n kannon rond, want hy’t niks kleiner nie.

Nou vir die Ingelsman. Hy weet niks van die bos nie. Hy was nooit in die army nie. Hy kan nie Afrikaans praat nie, so hy kan niks met die swartes kommunikeer nie – maar hy hou van die swart girls. Die Suidwesters trek hulle neuse op vir die Rooinek. Ek vat hom orals saam met my want hy luister en hy wil leer – hy het ook ‘n storie te vertelle – ek vat enige iemand saam met daai tipe van houding. Ons het net 20 kransaasvoëls en ons probeer hulle meer maak. Dit is my job om elke week ‘n koedoe of gemsbok te skiet en vir hulle op ‘n seker plek te voer. Daar is ‘n skuiling en mens sit so 20m van hulle af en lees dan met ‘n verkyker die nommertjies op die bandjies op hulle lelike pote. Die Ingelsman raak nou deurmekaar met ‘vulture’ en volstruis. Elke keer as hy ‘n aasvoël sien en hy wil nou vir my in Afrikaans sê, dan praat hy van ‘n volstruis. Ek help hom maar reg.

‘n Klomp van hierdie groot kokkedore van Natuurverwarring kom Waterberg toe – wil ons opcheck. Hulle wil ook graag hierdie kransaasvoëls sien. Al hierde veldwagters, wit en swart wil graag nou eerste wys – sien dalk kry hulle ‘n verhoging of iets. Ons almal staan so om ‘n watergat en ek kyk op, daar vlieg ‘n paar van die lelike voëls. Ek skouer die Rooinek so – wys vir hom. Sien, hy steek nou sy bors so uit – druk daai vinger die hemele in en hy sê kliphard, “Kijk Meinheer, daaRRRRRop vlieeg ‘n wolsRRRuis.” Kyk, ek duik agter daai Hilux in ek ek proes soos ek daai lag probeer inhou – julle weet mos, die sop spat orals heen en mens klink soos ‘n renosterbul in paartyd. Ek maak asof ek my skoen vasmaak, maar my maagspiere het lankal ingegee. Daai kokkedoor loer hierdie surfer so en ek lag man, die trane loop.

Link to comment
Share on other sites

  • 2 weeks later...

Mauritz ek het nou lekker gelag - bietjie laat op hierdie skrywe van jou afgekom - lekker gelees en lekker gelag ! Baie Dankie my naweek begin goed.

Link to comment
Share on other sites

Laat my aan my eerste Amerikaanse vrou dink. Nee, nie die boude nie!

Ek het haar goed Afrikaans leer praat, maar sy het nie n idee gehad van "tenses" en "verbs" of hoe om Afrikaans te spel nie, en sommige dinge het sy sommer uit Engels vertaal of haar eie woorde opgemaak. Sy het altyd van n "ostruis" gepraat, "geskriklike", en my vriende het hulle vrekgelag toe sy vir hulle vertel "Kom jy en jou wyf bietjie vanaand saam met ons eet"!

Edited by hagar
Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...