Jump to content

Kavango (3)


Guest mauritz

Recommended Posts

Guest mauritz

Ons bly nog steeds in die groot karavaan. Die troepies gooi konkreet en werk in die reën en weer. My ma kook vir hulle potte sop en hulle kom kuier naweke by ons. Hulle bring vir my stiefpa, al hierdie vuurwapens - splinternuwe R1, nog in olie en plastiek toegedraai, 'n PPSH, russiese masjiengeweer - 'n lelike ding en nog baie ander. Dit is onwettig en hy steek dit weg. Later - baie jare later - gaan ek saam en hy gooi dit in die Kavango rivier.

Sien, my ouers het elke jaar in die Angola gaan vakansie hou - ek het eenkeer saamgegaan - ek het Luanda, Lobito en Mossamedes gesien. Ons gaan met 'n karavaan en kuier hard saam met die Portugese - hulle is baie vriendelik mense en Angola is vrek mooi.

Op dieselfde trip, trap ek in 'n stuk glas - ek raak so siek soos 'n hond. Daar is nie dokters nie en ek raak net erger. Stiefpa kyk na my voet en daar is so 'n lang rooi streep wat so teen my been opkruip - bloedvergiftiging. My stiefpa sê vir my as daai streep tot by jou hart kom, dan begrawe ons jou in Angola. As daai streep by jou lies uitkom, dan moet ons jou been afsny. Hierdie is voordat ons in die Kavango gebly het, so ek moes so 5 gewees het. Uit kom die mes - punt skoongebrand op 'n kers en die operasie begin. Daai ou Sprite karavane het mos sulke plastiek teekoppies gehad - sulke lelike geles. Toe daai mes in my been ingaan toe spuit die sop so - daar kom 2 koppies van daai lelike goed uit my been uit. Alles wat brand word daarin gegooi en ek mag nie huil nie. My been word nie afgesny nie, ek word nie in Angola begrawe nie - die vakansie gaan maar net aan. O ja, dit was die vakansie waar die eerste Suid-Afrikaanse soldaat in Angola gesneuwel het. Dalk kan JJ bevestig – dit was of in ’74 of ’75.

Terug in die Kavango - dieselfde Portugese pak oornag op en vat die pad. Hulle los alles agter - gryp hulle kinders, honde en kalkoene, bietjie geld wat hulle het - daar gaan hulle. Hulle kom oorkant in Kalai aan, almal het omtrent Landrovers - kalkoene oppie dakke vasgemaak. Die mense is heeltemal verskrik en wild - hulle het alles verloor - baie is vermoor ens. Daar is nie 'n brug nie - net 'n 'pontoon' - so die families word so stuk, stuk oorgebring.

Hulle het geen plek om na toe te gaan nie, so almal help. Ons slaan ons karavaan en tent op - langs ons groot army karavaan - ook al die ander tente wat ons het. Ons wat so 'n hele klomp families aan. My ma en almal kook op oop vure - die mense is 'n sad spul - lyk heeltemal verlore.

Baie vestig in Rundu - al die kindertjies word 3 klasse laer afgesit - hulle kan nie 'n woord Afrikaans praat nie. Die lewe is hard - hulle sukkel, maar almal help. Baie is amper klaar met skool en vind hulle nou weer in laerskool – sit saam met die pikkies in die klas. Die hare waai partykeer want die humeure is kort en almal het baie slegte herinneringe – hulle het hulle huise, plase, werke en land verloor. Dalk nie veel anders as wat baie van ons nou voel nie.

Hulle verkoop van hulle Landrovers en daai mooi ivoor gegrafeerde haelgewere – hulle verkoop dit vir ‘n appel en ‘n ui. Ons koop 2 van daai kortgat Landrovers en van die mense gee vir ons van die haelgewere persent, omdat ons so goed na hulle gekyk het.

Van hulle kry later huise en die eerste ding wat hulle in die agterplaas bou is ‘n klei oond. Hulle maak ‘n spesifieke tipe brood daarin – noem dit ‘n Pao (spelling) – so ‘n lekker ronde brood en man, dit lekker as dit nog so warm is.

Ons almal raak later vriende met die Portugese, die mans/seuns is aantreklik het het eksotiese name – Fernando en Carlos ens. Hulle vry die Afrikaanse meisies onderstebo. Die meisiesdieselfde – name soos Rosa, Craca ens. Later soen ek my eerste meisie – ‘n Portugese meisie - ek is verlief. Die Portugese hou van party en elke naweek het hulle iets aan – Rundu verander – die jong klomp dans en vry dat die biesies bewe naweke.

Daar is nog steeds Portugese in Kalai, maar niemand mag meer oor die grens gaan nie. Dit stop nie my stiefpa nie. Hy ken die swartes en naweke snags word ons almal in ‘n wato geprop en ‘n Kavango roei ons oor in die donker – ons gaan party in Angola. Die parties is wild – ons speel so tussen die tafels met die Portugese kindertjies. Voor dit lig word, moet ons terug – stiefpa loop op sy ooghare rond en sing Portugese songs, die Kavango roei en ons raak aan die slaap op die slag van daai houtspaan teen die hout wato.

Lank daarna gaan ek nog baie Angola toe – alleen of saam met my swart vriende. Ons swem deur en gaan steel perde, wat ons terug swem en dan vir ‘n vakansie hou. Ons gaan haal erdwurms uit. Later vat ek van my wit vriende oor in ‘n wato – julle moet onthou, daar is ‘n volle oorlog aan die gang. So, ons almal klim in ‘n boom en dan moet een gaan en kyk hoe vêr hy in Angola kan inloop – sien ons speel ‘chicken.’ Wanneer een so lekker loop en uit die voetpaadjies bly vir die personeel myne dan begin ons gil – “hardloop, daar kom Swapo” – man, dan moet jy sien hoe hardloop so ‘n boerperd – geen worry meer oor die myne nie. Dan val ons amper uit die boom uit soos ons lag.

Ek gaan ook ‘n paar keer saam met stiefpa in Angola in – hy smokkel met diamante (vanuit Angola). Sien, van die Unita soldate stuur iemand oor as ons so langs die rivier visvang – hulle ken hom. Dan gaan ons oor in ‘n wato, sonder enige vuurwapens. Diamante word geruil vir olifantgeweer ammunisie, petrol, mieliemeel en geld. Een aand gaan ons oor – ek is klein man en die spanning loop hoog. Skielik is daar iemand met ‘n AK47 voor jou, dan stap ons diep in Angola in en gaan sit om ‘n vuur – die ‘dealings’ begin. Die aand raak my stiefpa en die een van Unita manne aan die stry – die Unita man lyk wreed so in die lig van die vuur – hy het net een oog – hy spring op. Stiefpa gryp ‘n stuk hout uit die vuur en spring op. Ek wil net onder ‘n bos inrol - gelukkig koel dinge af en ons kan gaan. Ek loer oor my skouer – ek vertrou nie daai wrede eenoog Unita nie. Stiefpa word later gevang deur die polisie, maar hy kom los.

Ek is mal oor perde, maar stiefpa wil niks weet nie – hy het ‘n vriend op skool verloor deur ‘n perd – ek mag nie ‘n perd kry nie. Eenkeer toe ons gaan jag, sien ek hoe Boesmans op perd kameelperde jag met asegaaie. Glo my, ongelooflik – ‘n kameelperd kan skop dat ‘n olifant op sy g@t gaan sit. Daai boesmans ry met daai maer perde in daai boswêreld so onder ‘n kameelperd se blad in en gaan reguit vir die hard. Sien ek wil dit ook doen.

Ek kan nie ‘n perd in die Kavango steel vir ‘n tydjie nie – al die swartes ken my stiefpa en julle kan net dink wat se palawa dit gaan wees. So, ek moet ‘n perd in Angola gaan soek. Dit is hoe die storie werk. Die rivier was daardie tyd vol seekoeie en krokkedille – man die goed in groot – hulle hoef nie te byt nie – sluk jou sommer heel in. Daai Afrika krokkedille is ‘n ander een – hy sal jou nie sommer onmiddelik gryp nie. As jy elke dag by dieselfde plek gaan water haal, dieselfde plek swem – dan gaan hy jou so die derde dag gryp. Sien ek gaal die .22 se kolf af, dan is hy lekker klein. Ek het so ‘n lang mes – dalk vir as dit ‘n klein krokkedil is, dan kan ek hom lem, maar ook vir die myne. As ek so loop in Angola en ek moet deur daai seekoei paadjies loop, want daar is nie ander plek nie (gewoonlik bly ek weg van ‘n voetpad af – ek het genoeg van Kavangos gesien met af bene) dan steek ek die grond so, trap dan, dan steek ek weer en dan trap ek – tot ek weer my eie pad kan vat.

Ek soek ‘n lekker beskutte boom aan die Suidwes kant – trek daai lang rivier grasse uit – dit dryf – gaan die water in, waar daar nooit ander mense is nie – gooi daai grasse oor my kop – gryp die .22 op my bors – dan swem/dryf ek so op my rug oor Angola toe. Vir julle wat daar was – ‘n m@erse rivier en ‘n sterk stroom. Sien ek het nie ‘n toom nie – net ‘n stuk tou.

Wanneer ek in Angola kom, soek ek lekker lang riete, dan kruip ek daarin, want ek wil nie gesien word van die Suidwes kant nie. Dan vat ek van daai lekker swart modder en ek begin bo – maak die blonde hare toe en dan camo ek myself – maak my vel lekker swart. Nou is ek reg – dan loop ek en soek die perde. Partykeer moet ek hulle spoor.

Dit klink maklik, maar dit is hard om ‘n perd te vang en terug te swem oor daai rivier. Partykeer kry ek dit reg, ander kere nie.

Ons het ‘n motorboot – en vandat ek so 9 is, vat ek dit alleen uit. Ek het ‘n 9mm Walter (onwettig – nog ‘n present van daai troepies), ‘n semi-auto 12 gage shotgun en ‘n .22 in die boot. Die enjin is af, want ek het ‘n groot tiervis gehaak. Ek staan op die neus van die boot en stoei met die tiervis. Sien ek dryf nou teen die Angola kant af, want dit is waar al die vis is. Toe ek so om ‘n hoop riete dryf en ek so stoei met daai tiervis, toe staan daar ‘n poedelnakend swarte, besig om te bad. Ek loer hom so en skielik buk hy af en gryp ‘n AK47 – die stroom is skielik baie stadig en tyd staan stil. Ek sien sy uniform – MPLA. Hy rig daai AK op my bors en ek weet ek is dood. Ek kan agteroor in die water val en die krokkedille trotseer en my kanse vat. Die krokkedille is nie ‘n probleem nie – dit is stiefpa, as ek daai boot met alles verloor – begrawe hy my in Angola. Hy het my eenkeer gemaak oor daai rivier swem om die boot te gaan haal, omdat ek dit nie vasgemaak het nie.

Ek kan vir daai vuurwapens gaan – sien groot besluite vir ‘n 9 jarige. Ek kyk daai kaal man so, wys my tande en groet hom in Kwangali. Hy kyk my so – ek vra vir hom in Kwangali of hy ‘n vis wil hê. Hy begin smile – jy sien net tande – hy sit die AK op sy uniform neer en klap sy hande so saam – Mbandu Hunêne (Baie dankie) sê hy vir my. Ek sê vir hom, wag net ‘n bietjie – ek speel die tiervis moeg en teen daai tyd is ek al vêr gedryf. Ek start die enjin en ry terug – ek gee vir hom al my vis en ‘n Mahilili (bruinvlerk) een. Daai man is so bly – ons gesels ‘n bietjie en daar gaan ek.

Dit klin vriendelik, maar dit het ‘n helse invloed op my lewe gehad. Die begin van om nie ‘reactive’ te wees nie, maar om ‘creative’ te wees. Gesels eerder, praat eerder – daar is partykeer altyd ‘n weg. Nie net dit nie, ek het vir niemand vertel nie – tot so 4 jaar terug toe. Ek het vir jare nagmêrries gehad. Ek het vir dae gesit en daai 9mm opgetel, gespan en gemik, net om vinniger te raak – wil nooit weer so gevang word nie.

Sluit 'n paar pics in - eerste een is die vakansie geneem in Angola - dink dit was Mossamedes. Die ander is van vissies skoonmaak en 'life' in die karavaan. Die laaitjie is Isak Ellis - sy pa was 'n PF - dink van Brits af - dalk daag hy eendag op die forum op en kan saam gesels.

post-5093-1191466985.jpg

Link to comment
Share on other sites

Hallo M.

Ek het begin met "nonsense" omdat ek nie werk gehad het en baie tyd op hande gehad het. Nou het ek 'n besigheid begin en tyd is net nie meer daar nie. Ek kry nog so nou en dan tyd om jou "sense" te lees. Puik man, puik. Jy herhinner my aan Dok Immelman met sy Suidwes stories. Ekself het 'n paar te vertelle oor Suidwes, maar onglukkig is dit van die slegte soort. Army stories sien. Mens praat nie daaroor nie. As ek weer my fortuin gemaak het, het hoop ek om daar in julle wêreld te kom rondtoer en te gesels. Ek voer spesiaal 'n klompie Koos Wye Voete in vir so 'n kuiertjie ooral oor.

Intussen, hou so aan. Groete.

Link to comment
Share on other sites

Guest mauritz
Hallo M.

Ekself het 'n paar te vertelle oor Suidwes, maar onglukkig is dit van die slegte soort. Army stories sien. Mens praat nie daaroor nie.

Ek lees jou stories nou:) - geniet dit baie. Ek is sommer die m@er in oor die storie dat 'n mens seker dinge nie kan sê nie. As mense nie daarvan hou nie, hoef hulle mos nie te lees nie. Dalk moet mense hier 'n kroeg begin - ek meen die dames het hulle private 'lounge'. Daar word vir my vertel dat ek nie goeie geselskap kan wees omdat ek sekere dinge (soos vloek) nie voor die dames wil doen nie. Die dames kan 'spleens vent' in die 'lounge' met melktert en koeksisters - all in secret - yep ek weet van 'sommige' stories :) - ons word oor die kole gehaal as ons sê wat oppie hart is.

Ek steek my hand op vir 'n kroeg - een met 'n vlakvark kop teen die muur - met 'n lekker Namakwa dronklap innie hoek - een waar ek lekker kan suip en galblaas. Wie sensor ons so??? - ek wil jou stories hoor - ek het ook baie te vertelle. Ek weet daar is baie ander wat ook so 'n kroeg wil hê.

Link to comment
Share on other sites

Ek ook!!! <_<:blush:

Hoe lyk die bosveld daar by julle vir die boskroeg? Ek sal verlang want ek het tussen die Hardekool en Rooibos grootgeword!

Kan nie so iets onthou oor die eerste SA wat gesterf het in die 74 - 75 nie, dis laaank terug.

Ek sluit 'n fototjie in van 'n wilde vlakvark in Marloth Park. Die ou toppie was baie geneë met die rugkrappery - baie gevaarlik natuurlik!

Groetnis

Die eintlike een vir die kroeg!!!

Weet nie hoekom hy nie aangehang het nie....

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...