Jump to content

Sommer net nonsense op 13 Julie 2007


Jan Stoof

Recommended Posts

Sommer net nonsense op 13 Julie 2007

Nog ‘n jagstorie.

Ek het in Wes Transvaal groot geword. Die wêreld was maar plat en dit is mielies net waar jy kyk. Daar is so hier en daar ‘n bietjie Bosveld maar nie iets om van te praat nie. Net buite Klerksdorp was daar ‘n ou wat ‘n reservaat op die been gebring het. Maar dit is ‘n ander storie.

Toe ek klein was en dit is Winter, dan het ons geweet, my pa sal die een of ander tyd biltong maak. Dit was gewoontlik wilds biltong. Eers later jare het ons net bees biltong begin kry en die storie, verduidelik hoekom.

My pa het gewoontlik saam met ‘n tjommie van hom, wat ‘n bakkie gehad het (nie ‘n Ute nie) gaan jag. Hulle het altyd op ‘n middag gery en as ons die volgende dag van die skool af gekom het, was die biltong gemaak en ons moes help hang. Nie met die hedendaagse paperclips nie, maar draad gebuigde “s’e”

Hy het dan ook presies geweet hoeveel stukke daar was en bewaar jou siel as jy een van daai nat stukke laat verdwyn het. Jou gatvelle het gewaai, skuldig of onskuldig.

As dit droog was, het hy dit spaarsamig uitgedeel. Een dag het ek my stuk gehou en vir my juffrou gaan gee die volgende dag. Sy wou weet waar die biltong vandaan kom. Ek het nie geweet nie en vra toe my pa die middag waar die biltong vandaan kom. Hy sê toe “van Oom X se Langplaas af” Ek het die boodskap net so oorgedra die volgende dag. Sy het my ongelowig aangekyk en wou weet waar die Langplaas was. Op my vraag die middag, antwoord my pa “in die Gopse” Ek dra dit net so aan my liefling juffrou oor, die volgende dag. Sy sê toe sy glo nie my pa nie en ek moet uitvind presies waar is die “Gopse” Toe ek weer my pa vra sê hy “sê vir jou juffrou dat sy haar by haar skoolwerk moet hou en ophou om hom te pla anders gaan sy nie weer biltong kry nie” Ek kan nie onthou of ek die boodskap oorgedra het nie, maar sy het nie weer biltong gekry nie.

So het dit vir jare aangegaan, tot een winter. My pa is weer weg Langplaas toe maar die volgende dag was daar nie biltong nie. Hy koop toe later ‘n beesboud en maak toe beesbiltong. Wat interessant was dat Oom X se bakkie die vorige nag gesteel was. Omdat dit ‘n ou bakkie was, was daar geen versekering nie. Dit is toe wat die Langplaas jagtery ophou en ons oorskakel na beesbiltong.

Jare later toe ekself begin jag en verstand kry, toe verstaan ek eers die storie.

Die “Gopse” was naby Northam en die “Langplaas” was die grondpaaie in die omgewing. Die bakkie wat gesteel was, was toe eintlik gekonfiskeer want hulle was daai nag gevang. Totdat my pa ophou jag het, het hy nooit vir ‘n bok betaal nie. Hulle het geglo dit is wilde goed en allemansgoed. Hy het my altyd kwalik geneem dat ek op jagplase gaan jag het en nie “gepoach” het nie. “Gepoach” was nie steel nie, dit was ‘n leefwyse.

Later jare toe hy nie meer my gatvelle kon aftrek nie en ons vriende geraak het vertel hy die volgende storie.

Oom X het ‘n suster gehad wat op Brits gebly het. Hulle het altyd eers daar gaan wag totdat die goed donker was, dan is hulle vort Langplaas toe. Een nag kry hulle ‘n Kudu digby die draad. Die “saloontjie” praat en die kudu slaat neer. Die modus operandi was. As die skoot klap, dan los jy ‘n merk langs die pad en ry weg. So ‘n ent weg kry jy kastig ‘n pap wiel en jy maak asof jy die bande omgeruil het. Die plattetjie word uitgehaal en jy wag en kyk of daar nie nog voertuie aangejaag kom nie nie terwyl jy ‘n knertsie geniet. Na ‘n halfuur ry jy terug en as die wêreld skoon lyk, word die bok opgelaai. Hulle laai toe die jongerige kudu op en gooi ‘n seil oor hom en onopsigtelik te wees. Dan jaag hulle huis toe, so 150km vêr en slag die bok af in die vroeë more ure. As ons dan by die huis kom van die skool af, is die biltong gesny en ons weet van niks.

Hulle gaan dan gewoontlik nie weer na Oom X se suster toe nie, want hulle moet by die huis kom. Tot die nag. Net toe hulle by Brits verby ry, hoor hulle ‘n gestamp agter in die bakkie. Toe my pa omkyk, kyk hy in die kudu se gesig vas. Die kopskoot was toe nooit ‘n doodskoot nie. Die kudu was net katswink en was omtrent vir ‘n uur uit gewees. Hulle het hom toe ook nooit keelaf gesny nie, want jy wil mos nie hê dat die bloed moet by die bakkie uitdrup nie. Die bakkie het ook skaaptralies omgehad. Die seil hang oor die kudu se kop en hy kan nie sien om te spring nie, Hy stamp net vorentoe. Oom X sê net

“f.. swaer” en jaag om by sy suster se huis te kom. My pa sê hulle jaag met daai stampende kudu deur Brits se strate tot by suster se huis. Hy storm die huis in en gryp haar sleutels en skrou vir haar om ‘n mes te bring. Hulle kan nie kudu skiet nie uit vrees die bure sal die skoot hoor. Hy trek toe haar kar uit die garage en my pa trek die bakkie in die garage in. Sy suster kom toe met ‘n tafelmes daar aangesit, sy weet mos nie wat aan die gang is nie. Hulle jaag haar terug om ‘n groot slagtersmes te gaan haal. In al die tyd probeer hulle om so stil as moontlik te praat en werk. Al wat jy hoor is die kudu wat stamp stamp teen die bakkie se kajuit soos hy probeer uitkom. Uit eindelik het hulle die kudu dood. My pa sê dat nie een van hulle deur ‘n horing deurboor was nie, is ‘n bestiering en genade van Bo af.

Die buurman het wakker geword van die gewerskaf in die garage. Suster was reg vir hom. Sy verduidelik dat sy lus was om die garage skoon te maak. Hy het haar maar bra ongelowig aangekyk want dit was 2 uur in die oggend. Later toe hy die regte storie hoor het hy blykbaar lekker gelag en gesê hy het geweet sy lieg nou soos ‘n tandetrekker.

Die middag toe ons van die skool af kom moes ons help biltong hang. My pa het ook nie die volgende dag gaan werk nie want hy was blykbaar te styf van die oorwerkery.

En ja, juffrou het ook nie van daai biltong gekry nie.

Link to comment
Share on other sites

Goeie een Jan!

Onthou jy die een van Oom Sagrys Noodskoot?

Dit was die omie wat op jag was en toe oorval 'n nood hom. Jy weet mos, daai soort nood wat mens kry van teveel boonjiesop...

En hy gaan sit en hurk mos daar onder 'n bos om homself "ligter" te maak en sowaar daar kom 'n eland aangetrippel, en net soos hy daar sit, gryp hy sy geweer, le aan en skiet.

En die bok slaat neer, morsdood, koeel tussen die oe.

En Sagrys se vriende kom toe net daar aan, en sien hoe sake verloop het. En een van hulle se:

"Jinne Sagrys, jou noodskoot was toe eintlik 'n hengse doodskoot!"

Volgens Andre Brink is dit hoe ou Sagrys aan sy bynaam gekom het.

Groete, en hou aan met die knap stories,

Dax

Link to comment
Share on other sites

Jis, manne. Julle laat my nou so lus kry vir 'n groot kampvuur, 'n groooot stuk koedoebiltong en 'n hele paar knertsies mampoer... :ilikeit: . Ek voel so aan my lende ons sal binnekort 'n plan moet maak hier in Adelaide..... :huh: Ek hoor juis kangaroo maak sulke lekker biltong :cry:

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...