Jump to content

Love is in the air


Biltongboer

Recommended Posts

Valentynsdag. 'n Dag van liefde. 'n Dag van nuwe verhoudings. 'n Dag waarop ou bestaande verhoudings versterk en bevestig word.

Vanoggend het ek die hele gesin hier weggesleep in ons Holden. Eers daar na Joondalup Music Centre toe - hulle het alles: klaviere, dromme, kitare, boeke - alles wat 'n musikant se hart begeer, is daar. Of dit kan bestel word. Daarna het ons gestop by die Barbecue Galore Shop, waar ek my eie nuwe Weber aangeskaf het - kompleet met cookbook en al.

Daarna het ons die Aqwa aquarium in Hillarys gaan besoek. Ek het visse daar gesien wat ek wraggies nog nooit gesien het nie. Daar was 'n seeperd wat soos 'n blom lyk - blare en al. Ongelooflik.

Maar nou - my storie. 'n Storie oor die liefde. Kan jy nou meer...

Ek het vanmiddag daai Weber aanmekaar gesit. Hier in Oz koop jy mos nooit 'n volledig aanmekaar gesitte ding nie - alles kom in bokse, en jy moet jou spanner en hammer vat en tinker tot jy die blooming ding bymekaar het soos hy in die prentjie op die boks lyk. Amper soos 'n grootmens-Meccano stel.

My seun help met baie ywer, en uiteindelik staan daai swart ding en kyk vir ons met blink ogies. Hy is reg vir aksie.

Sien, ek het in die begin hier in Oz besluit om maar die barbie-ding te aanvaar, en met gas te braai soos 'n regte Ossie. Die huis waarin ons gebly het, het sy eie ingeboude barbie gehad. Barbies is oraait, maar glo my - dis nie dieselfde as 'n regte Boere-braai nie. Ek het nou die dag hier in die straat geruik iemand braai - braai soos 'n Boer, nie die nou reeds bekende Ozzie barbie reuk wat ons in die parkies ruik nie. Daai barbie reuk is lekker, maar hy is net nie dieselfde as 'n regte braai se reuk nie.

En toe sien ek hierdie Weber, en ek vergeet skoon van barbies en fire-bans en Victoria Bushfires. Ek wil braai, soos wat God 'n man bedoel het om te braai. 'n Brandoffer vir my sondes, as jy wil.

Intussen het ek ook op 'n lekker bier afgekom. Crown Lager - ou Vonnie het my aan die goed bekend gestel, en dis glad nie 'n sleg bier nie. Ek begin toe die inlywing van die Weber met die knak van 'n Crown Lager.

Een ding wat ek van hou hier in Perth, is die ribbetjies wat jy sommer in die winkels se slaghuise kry. Hulle sny die skaapribbetjie op - elke rib is losgesny. Dit maak dit maklik om die goed gaar te kry, in plaas van om een groot lang rib te gebruik. Ek het die ribbetjies en die skaaptjoppies gemarineer. Sommer Master Foods se Barbeque sauce, en tamatiesous en 'n paar speserye. (Vir die ongelowige skeptiese mense daar onder in Afrika - ja, jy kry regtig skaaptjops ook in Australië.)

Ek start die Weber op met vier Heatbead firelighters - sulke goedjies wat amper soos Blitz is, maar dit kom in so snaakse pakkie en lyk so half pieperig. Maar dit werk. Dan sit ek die twee blokke met brikette in die middel reg bo die firelighters, en laat loop vir 35 minute.

Nou is die kole reg vir aksie. Ek skuif die kole uit na die kante toe, en plak die skaaptjoppies in die middel, met die "drip pan" onder in die middel. Deksel kom op, met die luggate so halfpad oop. Na 20 minute sit ek die ribbetjies onder in die "drip pan" - hulle kook so lekker in hulle eie sousies en raak sommer net al hoe lekkerder.

Ek draai die tjoppies nou en dan om, maar ek sien dis nie eintlik nodig nie, want die skapie kook van alle kante af binne-in die ding.

Intussen klap nog 'n Crown of twee. Ek is sommer in 'n goeie bui, man. Daai reuk is net ongelooflik. Dis mos hoe mens moet lewe, man - nie hierdie sissierige gasbraaiertjie met gagga Ozzie worsies nie. Ek sit op my stoel langs my nuwe swart vriend en maak my oë toe. Ek neem 'n diep teug in - daai lekker braaivleisreuk trek diep in my longe in. Ek kry amper trane in my oë, so lekker is dit. Toe ek in die huis instap, sê my vroulief ek ruik nou so lekker - dis nou daai lekker Afrika braai-reuk wat in my klere ingetrek het.

Ons het selfs later braaibroodjies op die ding gegooi. Hierdie Weber is 'n lekka ding man. Daai broodjies kom perfek uit. Nadat die tjoppies af is, het die ribbetjies boontoe geskuif.

Die ete het goed afgegaan. Dis van die lekkerste ribbetjies wat ek nog ooit ge-eet het, al moet ek dit self sê. Manjifiek. Ek kan dit ten sterkste aanbeveel. Ek is nie so lekker seker oor die hele "fire-ban" storie nie - beteken dit ek mag nie 'n Weber met charcoal aan die brand steek nie? Anyway, dis nou te laat - die brand is gestig, en soos dit 'n Witman van Afrika betaam, het niks in die proses afgebrand nie.

Onthou maar hierdie resep - dis 'n meesterstuk. My mond kwyl sommer weer terwyl ek sit en skryf met my dik maag vol skaapvleis.

Ek is verlief. Ek is mal oor daai Crown bier, en ek is verlief op my nuwe swart vriend met die naam Weber - what a good investment.

Maar meer as dit, is ek verlief op die vrou wat vanaand, na 13 jaar, nog steeds weer saam met my in die bed gaan klim. Wat 'n wonderlike mens. Die beste ding wat ek ooit in my lewe gedoen het, was om haar te jaag totdat sy my van agter haar naam geskryf het. Beter as braaivleis, vir seker beter as bier - my liefie, my enigste.

Happy Valentines Day

Link to comment
Share on other sites

  • 4 weeks later...

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...