Jump to content

Plaaslewe...


LuJVR

Recommended Posts

Van kleins af het ek en my ma die weggooilammers wat my pa van die veld af saamgebring het, grootgemaak. Ons het met skape (wit Dorpers) geboer en veral gedurende die droogtes was daar maar altyd 'n ooi of tien wat besluit dat hulle nie kans sien vir 'n tweeling nie, en dan die een weggooi, of wat eenvoudig opstaan en verder loop as sy gelam het. Wanneer daar dan skape bymekaargemaak word, kry jy die dooie lammetjie in die veld, of bring een van die werksmense een oor sy skouer saam. So kom die bondeltjie bene en vel dan huis toe en moet 'n geduldige persoon dan sit en die lammetjie 'leer' drink. Soms vrek hulle sommer dieselfde nag nog. As hulle al 'n paar dae lank ma-loos is het hulle al verleer om te suig. Maar as hy eers agterkom... mens se keel raak eintlik dik van jammerkry as daai dingetjie begin drink asof hy 'n enjin het. En dan is jy sy HERO. Vir altyd. :ilikeit:

Nou ja, baie jare later bly ek weereens op 'n plaas, net op 'n ander plek. En dis droog. Die ooie lam al weer. Sommige ooie se moedersinstink is so goed (?) dat hulle ten koste van hulleself die bes doen met die lam of lammertjies. En ander kies vinnig die sterker lammetjie van 'n tweeling en los die swakker een agter. Survival of the fittest.

So kom dit dat ek nou die dag vir 'n boer sê ek dink sy ooie is baie mooi (ek het gewerk op sy plaas, eintlik met volstruise) en toe kan dit nie hoër of laer nie, hy moet my nou die ander trop 'net agter die bult' gaan wys. Hy het 'n duisend skape en hulle is besig om te lam. So wag my kollega toe maar vir my terwyl ek 'gou' na Oom Gawie se skape gaan kyk (eintlik agter 5 bulte en 3 plaashekke). Daar gekom is dit toe rêrig mooi skape en ons gesels te lekker. Dis merino's en al is ek nie 'n merino-voorstander nie, is hierdie skape baie mooi. Dis net tweelinge en drielinge waar jy kyk. Ek vra hom later of hulle ooie ook nou lammers weggooi en wat van die lammers word. Nee, sê hy, hulle los hulle maar in die veld om te vrek. Dis te duur en tydrowend om hulle groot te maak. Haai shame, sê ek, maar ek verstaan. Dit ís duur en tydrowend en arbeid is maar skaars, veral oor naweke. Ek is toe terug huis toe.

Om 'n lang storie korter te maak, word daar na dese elke paar dae 'n klein, honger en yskoue lammetjie in 'n Omo- of Simbachipsboks vir my afgelaai by die plaaslike vulstasie, met komplimente van oom Gawie. Ek het nie die hart om die arme dingetjie terug te stuur nie. Daar is nou al ses klein gesiggies wat staan en skree vir melk! Hopelik hou dit nou op - te veel is te veel. Maar dis baie 'rewarding' as jy sien hoe vreeslik dankbaar so 'n diertjie is vir 'n bietjie melk. Veral die eerste keer. Mense (ek ook!) kan so min waardering hê vir al die goed wat reg loop in ons lewens. Ons vergeet soms om waardering te hê vir die klein goedjies, soos 'n bord kos of 'n warm bed. Die lammers doen my goed. Hulle hou my hande vuil en my voete op die grond. (Bygesê, dankie aan my man Willem wat hulle gaan moet melkgee in die middag as ek nie by die huis is nie. Hy is natuurlik heelwat minder beïndruk as ek!) :blink:

Lu

Link to comment
Share on other sites

Ai, hoe laat jy my nou terugdink aan my jong dae op die plaas daar in die Vrystaat. Het ook 'n paar hanslammers gehad en hulle selfs name gegee. Het hulle ook melk gegee totdat hulle te groot was en my omgestamp het, dan moes ma help. Ek het ook 'n ou vers kalfie gehad - het baie in die veld gaan stap met haar met my arm om haar nek. Goeie ou dae...

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...