Jump to content

Die landing


Biltongboer

Recommended Posts

Ons het die oggend van 17 September op Kaapstad se lughawe ingeboek by Singapore Airlines, en weer buite so tydjie met die familie spandeer om finaal baai te sê. Die heel laaste groet van al die groete. Die tyd het ons so half gevang, en daar was nie baie tyd om te groet nie. Dit was darem nie te hartseer nie. Ouma Margie het ons oudergewoonte almal bymekaargekry om vir ons te bid en te seën.

By doeane was daar nie veel moeilikheid nie, en ons is met ons 5 stukke handbagasie daar deur sonder enige probleme.

Ons is op ‘n bussie gelaai – nogal heel eerste, want ons het kinders by ons. Die bussie het die hele lughawe vol gery tot ons later by die vliegtuig uitgekom het. Toe ons teen die trappe opklim, toe besef ek my voete verlaat nou Afrika se bodem, en dit was sopas my laaste keer dat ek getrap het op die Afrika-grond waar ek, my ouers, en my kinders almal gebore is.

Ek en Michael is weer langs mekaar, in die middelry, en Celesti en die drie kinders is in die ry by die venster. Die stoel langs Michael is oop, so hy het lekker gescore. Hierdie Singapore Airline lugwaardin- tannies lyk te pragtag met hulle fancy nagrokkies. Air Namibia se anties lyk beslis niks soos hulle nie. Jy wonder heeltyd of jy nie in een of ander oosterse bordeel of stout plek is met die anties wat so mooi glimlag en rondwals met hulle dun lyfies nie. Hulle lyk almal soos ‘n identiese sesling - ek sukkel om hulle uitmekaar te ken. Hulle is baie ordentlik , en kom vra dadelik wat elkeen van die kinders se name is.

Toe hulle later vir Michael op sy naam aanspreek, laat wee thy my hy “het nog nooit in sy lewe sulke goeie diens gesien nie†- ‘n tienjarige weet mos darem baie van sulke dinge af, ne.

Toe ons opstyg, het hulle aangedraf met sulke warm lappies, wat in ‘n rolletjie gevou is. Hulle kom daar aan met ‘n tangetje, en stuur hom aan. Die stoom trek uit die lappietjie uit, so warm is hy. Dis die lekkerste gevoel as jy jou gesig afvee met daai lappie. (Veral die keer net voor ons in Singapore geland het, na amper elf ure se wakkerbly.)

Ek en Michael het dadelik begin karring met die TV hier voor ons in die sitplek. Hulle bring eers die oorfone as die vliegtuig uitge-level het. Intussen het ek en my seun klaar al die kanale uitgefigure. Hy het later by die games uitgekom, en het die hele vlug tot in Singapore, en die vlug na Perth later, na daai skerm gesit en staar en speletjies gespeel. Hyt amper nie eers gekyk na die kos wat hulle elke nou en dan aandra nie.

Hulle gee ewe ‘n menu met keuses. Ons hoofmaaltyd was ‘n keuse tussen:

Grilled chicken with supreme sauce, seasional vegetables and potatoes, or

Chinese braised beef with daikons and carrots, broccoli and steamed rice.

Net na die opstyg het ek ‘n “Singapore sling†bestel – so cocktail-drankie met ‘n rooi kleur. Volgens die menu was dit ‘n groot classic wat in 1915 begin het, en toe try ek dit maar. Res van die tyd het ek net coke bestel, ek wil nie gesuip daar anderkant aankom en my nuwe baas omhels met ‘n lekka drank-asem nie.

Ek het drie movies gekyk gedurende die vlug. Twee van hulle was oor American Football – ek het onlangs ook John Grisham se boek “Playing for pizza†gelees – ook oor NFL football. Dis eintlik ‘n lekker rowwe sport – ek verstaan dit nou baie beter. Die derde vliek was Iron Man.

Singapore is ‘n belewenis. Toe ons daar afklim van die vliegtuig af, is daar nie trappies af na die teer toe en ‘n bussie wat wag nie. Nope, hulle bou ‘n hele gang van die vliegtuig af tot in die lughawe. Lyk amper soos ‘n hotel as jy by die vliegtuig se deur uitklim. Toe ons eers in die lughawe is, moet ons uitfigure waarheen nou.

Ek vind later op ‘n manier uit dat ons na “Terminal 3†toe moet gaan. Ons sien hiers ‘n bordjie na Terminal 3 – dan is daar ‘n bordjie wat praat van ‘n Skytrain. Nou weet ons nie lekker nie, ons vlieg mos nie nou al nie, dis eers oor 4 ure, maar dit klink asof ons met ‘n trein moet vlieg na Terminal 3 toe, sodat ons daar op ons Perth-vlug kan klim.

Ons soek die trein en ons klim op saam met ‘n paar ander verdwaalde siele. Daai deng blink, die kinders is groot-oog en ek probeer lyk asof ek elke dag op Skytrains klim – niks nuuts vir hierdie Namibwoestyn-sandgogga nie…

Die Skytrain trek weg met mening. So mooi stem sê vir jou jy moet nou vashou, want hier gaat ons! En dan laat waai hy. Dit is vyfuur in die oggend, die stad begin al wakker word, dis net liggies sover jy kyk. Dit wat mens kan sien, lyk baie impressive, maar dit lyk bietjie opmekaar as jy my vra. Lyk nie asof daar groot oop spasies is in die plek nie.

Aan die anderkant, waar die Skytrain stop, is ons amper weer heel verdwaal. Die lughawe is enorm, ek kan dit nie beskryf nie. Ek moes eintlik fotos geneem het, maar ek was moeg, het omtrent die totaal van ‘n halfuur se slaap ingekry vandat ons weggetrek het. Dis nou 22h00 in Suid Afrika – eintlik nou tyd om te gaan slaap, sien?

Ek kry ‘n “free internet terminal†en ek is dadelik op die net. Vroulief is nie bly nie, en ek hou dit maar kort. Wil nie ‘n scene maak hier in die Ooste nie.

Daar is winkels die hele plek vol, en eetplekke. Ons spoor ‘n klimraam op, en Anica klim dat die biesies bewe.

Ons het later vir Burger King opgespoor, en hamburgers gaan eet. Ek moes eers op die internet gaan kyk wat kos die Singapore dollar. Iewers tussen 5 en 6 Rand, sien ek. Ons het ons handbagasie by ‘n plekkie gestoor. “Left baggageâ€, of so iets noem hulle dit. Dit kos my ‘n hele paar dollars, maar dis nou maar so. My kredietkaart moet maar die punch vat.

Burger King smaak glad nie sleg nie. Ek weet nie waar hulle beeste wei in hierdie concrete jungle nie, maar die vleis is heel goed. Op ‘n stadium soek ek ‘n toilet, en ek gaan trek ‘n skoon onderbroek en skoon sokkies aan. Hiers ‘n tip vir mense wat so wil vlieg, met ‘n stop-over tussen-in: Vat ‘n stel onderklere en sokkies saam in jou handbagasie, dit is amazing hoe lekker jy voel as jy weer skoon aangetrek het.

Die lughawe is in ‘n puik toestand – al die badkamers is spotless, die hele gebou is net ongelooflik netjies. Dit laat jou voel asof jy in ‘n hotel rondloop. Dit voel eintlik soos ‘n groot Mall met netjiese winkels en eetplekke.

Toe dit begin tyd raak om in te boek vir die laaste vlug, ontdek vroulief dat Anica se baadjie weg is. Sy hol die hele lughawe vol, maar ons kry nie die ding nie. Ons moet maar inboek sonder hom. As jy dalk daar deurgaan en ‘n klein baadjie sien rondlê, bring saam asseblief! Ons moet weer deur masjiene gaan met al ons goeters – my laptop, external harddrive, kamera en digital photo-frame gaan deur sonder moeilikheid. Ons verloor amper nog baadjies, met die kinders wat ons so besighou, sukkel ons om te onthou wie het wat. Die fotoraampie het Nico en Thia vir ons gegee – dis ‘n digitale ene, hy verander die fotos elke nou en dan.

Ons klim weer op ‘n gangetjie tot binne-in die vliegtuig. Hierdie keer sit ons verder agtertoe, met dieselfde konfigurasie – drie girls een kant, twee manne in die middle, met oop sitplek langs Michael.

Die finale landing by Perth is half vaag in die geheue – so baie goed gaan deur jou kop. Toe ons afklim, moet ons eers ons bagasie kry. Ook ‘n gangetjie, geen bussies op die aanloopbaan nie – het amper nie eens die aanloopbaan gesien nie. Terwyl ons aanstap in die gangetjie, praat ‘n ou hier agter ons met ons in Afrikaans. Hy het alleen gekom, sy familie sit nog anderkant en hy kom al werk aan die kant. Ek sien sommer die arme man verlang sy gesin – ons is almal saam, en hy is stoksiel alleen. Ek het al 6 ons tasse gemerk met ‘n geelgroen weerkantsende bandjie – goed wat fietsryers gewoonlik dra. Dit was maklik om die tasse te kry, behalwe vir een tas. Die kinders stry met my – dis nie ons tas nie. Ek verduidelik dat die bandjie net afgeval het, hulle glo my nie. Ek kyk later die airline se plakkertjie op die ding – dit is my tas. Ek tel later die weerkaats-bandjie langs die rolbaan-ding op.

Dis die eerste lughawe waar ek kom, waar mens deur scanners moet gaan met al jou bagasie as jy inkom in die land in. Gewoonlik word jy net gescan as jy uitgaan? Dis ‘n baie stadige lang proses, en ons is, soos gewoonlik, weer heel agter in die ry. Die tannies en omies is egter baie vriendelik, en verduidelik mooi wat hulle van jou verwag en wat gaan nou gebeur.

Ons sien ‘n ou wat ‘n ry trollies sleep – daai stootwaentjies van die lughawe. Hulle is so lang streep aanmekaar, en hy sleep hulle rustig. Hy het so geel waentjie vooraan die tou. Ek figure later uit hoe werk die ding. Die waentjie is battery-gedrewe, en al wat hy doen is om die ding rigting te gee. Die ding woooeer-woeer so soos wat hy aanloop. In Afrika sou ‘n boy hierdie klomp waentjies gestoot het, en tien teen een bo-oor drie mense en ‘n babatjie ry sonder worries. Hier in Koalaland word dinge anders gedoen.

Daar is geen honde of dingos wat ons wil opvreet of snuffel aan ons bagasie nie. Ook nie kangaroos nie.

Toe ons by die deur uitkom, sien ons vir Dewald en Dennis. Dennis is my nuwe Baas, en Dewald is ons ou vrind vannie Kaap af. Ons eertse foto in Perth word geneem, en geskiedenis word gemaak op 18 September 2008. Dis nou 16:00 in die middag in Perth.

Ek ry saam met my nuwe baas in sy kar, met Michael in die agterseat. Die ou is baie nice en vriendelik, en verduidelik alles – daar is die WACCA, hierdie is die Causeway, daai is dit, die is die ou brouerye, en so gaat dit. Ek is al verdwaal na ons eerste afdraai. Die plek is groot. Hierdie suidwes-sandvlieg ken nie van groot stede en causeways en traffic nie.

By die hotel moet ek met ‘n Ozzie praat by reception – wat ‘n fiasco. Hy praat iets van “credit khehd uprohlâ€, en verduidelik hulle moet my kredietkaart net deurtrek om te bevestig – net vir die ekstras wat op my kamer geboek moet word.

Dewald besluit dadelik dat ek en hy moet gaan vir “Thursday night late shopping†in die stad. Hy vat my na St George’s Terrace en die London street (of so iets). Ons is in by Woolworths, koop suiker en goete daarso. Dis nou nie Woolworths soos wat julle hom ken in Afrika nie – die is amper soos ‘n Spar of ‘n P&P.

My kredietkaart werk gelukkig by die till. Hierso moet jy self jou kaart deur die masjien trek – die teller kyk my so aan toe ek die kaart vir haar gee. Ek is gewoond dat iemand my kaart vat, met hulle vuil hande eers vryf oor die magneetstreep, en dan drie keer deurtrek tot hy werk.

Die meeste mense wat ek sien hier in die stad is Japsnese. Jy sal nie glo hoe baie chinas hier rondloop nie, ek dog amper ons is nog in Singapore. Ek sien actually twee swart mense ook in die wandellaan – kan jy glo. Hier is iets van alles – elke bevokingsgroep in die wereld.

Dewald vat my na Harvey Norman om my selfoon aan die gang te kry. Ek koop ‘n Telstra starter pack (stehduhpehkâ€, soos hulle sê) vir $25. Toe ek later die ding probeer aktiveer, toe moet ek eers ‘n nommer bel, en die nommer laat weet my dis na-ure en ek moet maar in werksure weer probeer. So much for late night shopping.

My eerste nag voor ek gaan slaap, het ek so bietjie van ‘n paniekaanval gehad – ek kyk na my vrou en die kinders wat almal slaap, ek dink aan die chinas wat ek nie verstaan het by Kentucky nie, en ek wonder of ek die regte ding gedoen het. Maar ek weet dis maar net die bomskok.

Ek moet erken, ek is nie baie impressed met Telstra nie. Ek het twee minute op die internet gegaan, en skielik is my rekening leeg. Ek gaan more met 3 (three) probeer en maar ‘n mobile-modem ding kry. Die hotel het natuurlik blitsvinnige internet, met die volgende opsies beskikbaar:

One hour - $14.99

One day (200MB) $22.96

One week (1G) $89

One month (5G) $299

Amper R2000 vir een maand se internet-konneksie? Ek dink nie so nie, mate. Ek het net vir vandag maar gou die one-day opsie (teen naastenby R140!) geneem, net om my goed uit te sort en oplyn te kom. Het ander tye maar by Dewald se huis op die internet gegaan.

Dankie tog vir my pel Dewald. Sonder hulle sou ons maar gesukkel het hierso. Vrydag-oggend het ek my bankrekening by Commonwealth Bank oopgemaak. Klaar my ATM kaart gekry, alles. Ek sukkel net om my geld uit my FNB kredietkaart uit te kry na my Ozzie bankrekening toe. Daar is ‘n daaglikse limiet wat belaglik laag is, en gesprekke met die bank in SA en Namibia het net my laat verstaan dat daar nie probleme behoort te wees nie. Eish.

Hulle sê daar is net ‘n limiet op die cash wat jy by die ATM trek, maar nie by die bank binne nie. Binne in die bank wou dit egter nie so werk nie. Sal maar Maandag weer probeer.

Ek het ‘n kar gehuur by Bayswater car rental (No Birds) – hulle spandeer nie geld op advertensies met mooi girls nie. Girlies word mos “birds†genoem, of “shielasâ€. Nou noem hulle hulleself “No Birdsâ€. Hulle is bietjie goedkoper, blykbaar omdat hulle nie geld mors op birds nie. Ek moes ‘n $250 deposito betaal, wat ge-refund word as ek die kar volgende Vrydag weer terugbring sonder skade – insurance excess fee. Dan het ek darem nog $250 cash om te gebruik. Die hele rental koste was $480 vir een week, deposito ingesluit. Don’t even start converting to Rands, mate, you’ll kill yerself.

Vrydagmiddag help Dewald se vrou vir Celesti met shopping, en die aand eet ons by hulle. Ons vind darem die weg terug na die huis toe met behulp van Dewald se NavMan wat hy my geleen het. Dis ‘n GPS wat met jou praat. Die ou het so lekka Ozzie aksent, en sê “wheathean the next 200 meaduhs, tuhn leftâ€, of “at the rounduhbouht, take the theahd eggszeatâ€. Dit beteken gaan regs as jy om die sirkel gaan.

Dewald sê Vrydagaand vir my daar is Saterdag ‘n manne-ontbyt waar Peter Pollock gaan praat – ek moet saamgaan. Ek is reg, wil mense ontmoet en wou hom nog altyd graag ontmoet in elk geval. Volgende oggend staan ek seweuur op – ek het eers drieuur die nag aan die slaap geraak. (Jetlag? – what jetlag?) Ek ry deur na Dewald toe met die huurkar en sy NavMan wat my vertel waar om te gaan.

Ek ontmoet ‘n klomp Ozzies. Die een oom, sy naam is Phil, het my sommer dadelik onder sy vlerk geneem. Ek moet langs hom sit, en hy verduidelik alles en stel almal aan my voor. Hy stel my voor aan die ouens wat langes hom sit – This is Khobuhs, Mharheahs, and Leon. Kobus, Marius en Leon. Almal van die states af. Kan jy glo.

Daar is amper meer Afrika-manne, including Zimbos, as wat daar Ozzies is. Die een ou vra my of ek nie daai “Biltongboerâ€-ou van die forum is nie. Ek wonder eers of ek moet eerlik wees, netnou is hy een van die ouens wat ek kwaad gemaak het. Hy is toe altyd ou Bloubul – kan jy glo? Dis weird as jy iemand op die internet ontmoet – jy het geen idee hoe lyk die ou in lewende lywe nie. Hy vertel vir almal hy ken die mannetjie – ken sy hele life-story daar van die forum se journals af. Hy wil my al lankal vir ‘n bier uitgevat het. Ons het darem nou mekaar se telefoonnommers. Ek hoop nie hy het planne met ‘n krieketbat en ‘n small bodybag nie…

Peter Pollock het baie goed gepraat. Ek het hom na die tyd ontmoet en sy blad geskud, en die man gryp my en bid ook sommer vir my. What a way to start in Australia – ontmoet een van Suid Afrika se grootste kriekethelde – in Perth. En toe bless hy my ook sommer.

Gisteraand het ons see toe gegaan net voor die son gesak het – ek loer so en dink aan Afrika wat daar ver in die weste iewers lê, anderkant die groot waters. Die strande hier is baie mooi, en alles is ontwerp om dit familie-vriendelik te maak. Ons het ook Hillary’s toe gegaan – amper soos die Waterfront in die Kaap, net kleiner.

Ons het darem met die familie geskype en lekker gesels. Altwee oumas is online, ten spyte daarvan dat hulle al vrek oud is – gebore nog lank voor daar rekenaars en internet was.

Vandag was ons vir die eerste keer alleen, sonder Dewald-hulle. Ons het Kings Park besoek – what an amazing place! Ons het op die DNA toring geklim en fotos geneem. Ons kon ons pad terug huis toe kry sonder om die NavMan te gebruik – ‘n groot oorwinning! Ek begin nou meer ‘n gevoel kry van waar wat is, en hoe die paaie loop. Min of meer.

More gaan ons “Relocation agent†ons ‘n paar huise wys naby die kinders se skool. En dan gaan ek na my kantoor toe om my papiere in te gee en almal te ontmoet. Die Baas het gesê ek hoef eers volgende week te begin werk. Dan gaan ons kar soek, en hopelik iets kry voor die huurkar moet teruggaan.

That’s it for now – een lang episode. Dis lekker om hier te wees. Ek is mal oor die plek so ver, dis net die groot stad wat my ou plattelandse suidwes-agtergrond so bietjie bomskok gegee het. As ek net eers my geld en my internet-konneksie kan uitsorteer, dans die Kaap weer Hollands.

Ons het nog nie ‘n kangaroo raakgeloop nie. Daar is bordjies langs die pad op die Mitchell Freeway wat ‘n kangaroo ophet, nes daai bordjies wat ons in Namibië het met die kudu op, hys net geel. Ek weet nie of die goed hier oor die pad hol soos ‘n kudu nie - miskien beteken dit iets anders? Sal maar kyk of ons een sien.

Link to comment
Share on other sites

Ouboet, wat 'n enorme voorreg!!

Waardeer hierdie tyd in julle lewe wat alles nog nuut en vreemd en opwindend is!

Mag dit met julle wonderderlik goed gaan daar, en moenie vir een oomblik twyfel nie!

Link to comment
Share on other sites

Ouboet, wat 'n enorme voorreg!!

Waardeer hierdie tyd in julle lewe wat alles nog nuut en vreemd en opwindend is!

Mag dit met julle wonderderlik goed gaan daar, en moenie vir een oomblik twyfel nie!

Dit was soos musiek in my ore toe daai antie by customs na al die lang stories vir my se: "Welcome to 'Australia!" Pragtag man.

Link to comment
Share on other sites

Biltongboer,

Ek is bly jy het die plek al so goed leer ken. In april toe ons daar was, het Kings Park my geweldig beindruk en Perth is 'n mooi stad. Hierdie familie begin ook nou opgewonde raak. Nog net 4 slapies dan is ons ook op die grootvoël. Ons land vrydagoggend en moet dan net die motorstorie uitsorteer en maar 'n GPS aanskaf om mee oor die weg te kom. As jy 'n ou nessie gekry het, moet jy maar laat weet dat ons maar 'n ou boerebraai kan inwerk.

Groete

Deon

Link to comment
Share on other sites

Baie goed geskryf BB.

EK het vir jou storie gewag het geweet dit sal 'n goeie een wees!

Post 'n bietjie fotos. (Miskien op jou blog) dat ons kan sien hoe dit lyk daar.

Link to comment
Share on other sites

Baie goed geskryf BB.

EK het vir jou storie gewag het geweet dit sal 'n goeie een wees!

Post 'n bietjie fotos. (Miskien op jou blog) dat ons kan sien hoe dit lyk daar.

Kyk op my familie blog vir fotos. Groete!

Link to comment
Share on other sites

BB

Ons het angstig gewag vir jou storie. :ilikeit: Bly dit het so goed gegaan. Geniet al die nuwe belewenisse..........................Round up the kangaroos, ons is kort op jou hakke.

Sterke met die kar koop.

Denise

Link to comment
Share on other sites

Hi BB en Familie.

:ilikeit: Welkom in Australia !!!!!!! B)

Moet se die bomskok is 'n groot ding, ek het ook gedink ek was in China hier in Brisbane, maar dit is net in die stad so.

Geniet elke oomblik en lekker huis soek !!!!!! Julle sal ok wees, dis heeltemal nomaal om gemengde gevoelens te he.

Cheers vir eers

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...