Jump to content

Oupa Nico


Biltongboer

Recommended Posts

Ek het besluit om sommer ‘n slag iets te skryf oor iemand wat ‘n belangrike rol in my lewe gespeel het, naamlik my Oupa. Dit is een van my diep stukke hierdie – haal uit die tissues, hiers groot snotblokke oppad. Dit was baie moeilik vir my om hieroor te skryf, veral die laaste gedeelte.

My biologiese pa het mos soos ‘n regte Afrika-inwoner die pad gevat en sy kinders vir Ma gelos om groot te maak. Sy het jare gesukkel om hom sover te kry om net onderhoud te betaal. Tot in my Matriekjaar het hy R75 per maand vir ons onderhoud betaal. Ek verstaan nie hoe dit werk nie. Ek onthou die dag, ek was 5 jaar oud. Ons het in die huis ingestap, en ek sien hier’s goeters weg uit die huis uit. Die Hi-Fi was die een ding wat ek goed kan onthou. Toe ek my ma vra waar’s die Hi-Fi, toe verduidelik sy dat hulle nou geskei is en dat hy nie meer hier bly nie.

Ek het hom seker so 5 keer daarna weer in my lewe gesien, kom ons sê tien, net om dit baie te laat klink. Laaste wat ek met hom te doen gehad het, was toe hy my gebel het met my eerste kind se geboorte. My ma flerrie mos altyd agter hom aan, en sy het sy kontaknommers en email adres – ek stel nie ‘n hel belang daarin nie. Syt hom gebel daai dag en gesê hy moet my darem bel en gelukwens met die kind se geboorte. Toe ek antwoord, toe sê hy “dis jou paâ€, toe wonder ek wies die blerrie aap wat nou met my praat.

Hy het nie my gradeplegtigheid of my troue bygewoon nie.

[Dis nou baie ironies: Terwyl ek amper aan die einde van hierdie storie se skrywery kom, lui ons telefoon. Dis iemand wat my biologiese pa soek, het my naam in die telefoon boek gekry. Ek is lus en vloek hom, maar ek gee maar net vir hom my ma se telefoonnommer en sê sy sal dit kan gee – ek weet nie waar hy is nie.]

Maar die storie is nie oor daai vark nie. Hy verdien nie baie spasie hier nie. Die storie gaan oor my Oupa, wat in baie opsigte maar soos ‘n pa vir my was.

Hy is gebore in 1906. Dink net wat hy alles in sy lewe aanskou het: Twee wereldoorloë, Suid Afrika se onafhankilkheid in 1961, apartheid, die Bos-oorlog, “Namibian Independence†– alles. Die koms van elektrisiteit in Suid Afrika, radio, TV, al daai goed. Hulle het nog Hollands op skool gepraat, Afrikaans het eers later ‘n amptelike taal geword. Ponde het Rande geword, en toe Namibiese Dollas, met Hendrik Witbooi se lelike gevreet op. Hulle het gemeet in voete en duime, en nous alles in kilometers en gramme. Dink jou dit in, ne?

Hierdie was ‘n goeie man gewees. Hy was klipharregat, en as hy kwaad was het jy nie met hom teë-gepraat nie. Hyt ons lekker gevoeter met sy belt, as dit regtig nodig was, maar dan was dit ook nodig.

Hy het in die Swartland daar naby Malmesbury iewers grootgeword, en het met allerhande goed geboer op sekere stadiums : tabak, wingerd, alles. Hy was iemand wat met die grond gewerk het sy lewe lank. Sy hande was tot op sy oudag toe grof, van werk in die grond. Na my ma getrou het en Windhoek toe trek, en haar suster doen dieselle ding, toe trek hy en Ouma sak en pak – los alles, en neuk op Suidwes toe in 1971, net na my broer se geboorte. Van daar af was hy ‘n suidwester, en wou nooit teruggaan Kaap toe nie.

Hy was een van daai mense wat ‘n konneksie met diere gehad het. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie. Ek vermoed Steve Irwin was ook so. Hy het ‘n aanvoeling vir ‘n dier, en diere is altyd gemaklik in sy teenwoordigheid. Jy kon die wildste perd, die ongemanierdste brak, die kwaaiste kat, enige ding na hom toe bring, daai ding vreet uit sy hand uit voor die son sak. Hy het geteel met budgies, met konyne, visse - al wat ‘n ding is. Vir ‘n slang het hy min tyd gehad, en menige pofadders, boomslange en ander het gesneuwel in ons agterplaas. Ons huis was teen ‘n berg gebou daar in Avis, en daar was allerhande gediertes wat beheer moes word. Ons het in die 70’s en tot so middel 80’s nog gereeld koedoes in die berg gesien, reg agter ons huis, partykeer teen die draad. Tot een mal boer besluit het om die goed uit te roei. Nou sien jy nooit meer ‘n wille ding daar naby nie. Behalwe nou daais wat kan stem.

Hy kon alles doen – kos kook, klere maak, houtwerk doen, tuinmaak. Hy was ‘n one-man show gewees. Hy het viool gespeel in sy kinderdae. Hy het ‘n klerewinkel in die Kaap gehad, en het op ‘n stadium DF Malan se pak gesny – was ‘n professionele snyer/kleremaker. Hy het gereeld ons klere reggeruk met ‘n naaimasjien en ‘n naald. Hy het die lekkerste kos gemaak, en ek praat nie van braai nie. Hy het bredies gemaak, wortelkoek gebak, alles. Op ‘n stadium tydens laerskool, voor my ma weer getrou het – het ons elke middag as ons van die skool af kom, eers middagete by Oupa gaan eet. Vol-gekookte middagete, nie toebroodjies nie. Hy het vir ons jellie gemaak, dan stol dit nie heeltemal nie, dan drink ons dit so in die glasies – groot treat gewees. Ek mis nogal daai dae, noudat ek daaraan dink.

My ouma is dood op 7 Desember 1977. Kanker het sy tol ge-eis. Ek onthou hoe moeilik dit vir hom was – hy was dedicated aan sy vrou, het sy alles vir haar gegee. Voor hulle getrou het, het hy vir jare lank eers gespaar om ‘n huis te kan koop, want hyt geglo jy kan nie ‘n vrou se hand vra as jy nie vir haar ‘n huis kan gee nie. Hy was baie hartseer na haar dood, en het al hoe meer tyd aan ons gewy. Hy het geglo sy kleinkinders is die slimste kinders wat bestaan, hy was baie trots op ons gewees.

Ons het ‘n dubbelverdieping huis gehad – die boonste en onderste gedeelte was apart. Hy het onder in die woonstel gebly. Elke oggend as ons skool toe ry, somer of winter, was hy daar om ons te groet – tot in my Matriekjaar, elke oggend. Mens waardeer sulke goed mos eers na die tyd. Hy was van daai ou garde wat nie nog kon lê en slaap as die son al op is nie. Hy was altyd in die tuin besig. Daai tuin het pragtag gelyk, veral daar in die sewentigs, toe water nog nie ‘n issue was in Windhoek nie. Hy het aan kompetisies deelgeneem, en sulke groot rose en dahlias geplant. Hy het op aanvraag die skole se roostuine gesnoei die hele dorp vol.

Hy het die gras gesny, alles gesnoei – dit was sy tuin. Hy het plaveisel gegooi, muurtjies gebou – my ma wil tot vandag toe nie daai muurtjies afbreek nie, want hyt hulle met sy eie hande gebou. Ons het maar so sentimentele streep in ons familie. Hyt in die agterplaas so sinkdam laat opsit. Hy het waterblommetjies geplant in die ding. Eendag toe hou hulle ‘n radio onderhoud met hom op die SWAUK se Afrikaanse diens. Hy was die enigste mens in Suidwes wat waterblommetjies hier kon aan die lewe hou. Daai selle waterblommetjies wat Sonja Herholdt so oor gesing het. Ons het elke jaar waterblommetjie-bredie ge-eet. Ek proe dit sommer so, terwyl ek hier tik.

Eendag toe ontmoet my ma so ‘n mal engelsman wat in die army is. Oor hom sal ek ook nog skryf. Hulle besluit om te trou, en Oupa dink toe hy gaan eensaam raak as dit gebeur. Hy trou toe sommer met die ou antie wat oorkant die pad bly – ‘n miesies de Jager, ook weduwee wat by haar kinders bly. Grootste fout van sy lewe gewees. My aangetroude famlie gaan vir my kwaad wees as hulle dit lees, maar tot vandag toe glo ek sy het sy dood verhaas, hy kon nog langer gelewe het as dit nie vir al haar stront was nie. Sy was een van die mislikste mense wat ek nog ooit geken het. Vreeslike fairy, vol make-up en pinkie-innie-lug tipe, glad nie hoe my oupa was nie.

Sy was later vreeslik sieklik, en hy het hom letterlik doodgewerk om haar aan die lewe te hou. En so kla sy net heeltyd. Niks was ooit reg nie. Oupa het geglo in die huwelik, en het sy vrou respekteer tot die dag van sy dood toe, want hyt ‘n belofte voor God gemaak teenoor haar. Dis hoe hy was: sy woord was sy woord, en veral teenoor die Here sou hy dit nie waag om sy woord te breek nie.

Toe hy baie klein was, is sy pa oorlede. Hy het maar van 6-jarige ouderdom af geleer om die man in die huis te wees. Swaargekry, hard gewerk, en nooit ‘n lui dag in sy lewe gehad nie.

Toe ek weermag toe gaan, vertel hy my stories wat ek nooit voorheen gehoor het nie – oor sy army dae, en ander goeters. Toe ek universiteit toe gaan, het hy baie keer die telefoon geantwoord as ek huis to bel (wat nie baie gebeur het nie, moet ek skuldig erken). Dan was hy so bly om met my te praat – die slim kind wat ‘n graad gaan kry, iets wat hy nie kon doen in sy leeftyd nie.

Hy het siek geraak terwyl ek op die Bos was. My broer het een oggend kom kuier in my kamer, in die middel van eksamentyd. Ek het net klaar geskryf daai oggend. Hy kom vertel my Oupa is weg. Vir die eerste keer in baie jare kry ek dit reg om te huil. Ek het seker nie een keer gehuil in meer as tien jaar nie – kon dit net nie regkry nie. Mense het vir my gesê ek het emosionele selfmoord gepleeg, dis hoekom ek nie kan huil nie. Ek moet leer om te huil, ‘n man mag ook huil. Dan sit ek en dink aan allerhande bose goed om my te laat huil, maar daar kom nie ‘n traan nie. My oge is kurkdroog, nes hierdie Namib se sand.

Skielik was dit asof my emosies teruggekom het, vir die eerste keer in jare. Van daai dag af het ek en my broer wonderlik oor die weg gekom. Voor dit was daar niks tussen ons nie. Snaaks hoe die goeters gebeur.

Ek het huistoe gevlieg vir die begrafnis – my broer het nie kans gesien nie, gesê hy het klaar vir Oupa gegroet toe hy hom laas gesien het. Die laaste keer wat ek hom gesien het, was die vorige Desember vakansie toe ek huis toe is. Hy was nie meer Oupa nie, hy was op sy laaste, en het moed opgegee. Ek onthou ek en my ma het ‘n helse fight gehad daai dag, en Oupa het net stil daar gesit en nie eers reageer nie. Ek het baie sleg gevoel later.

My pa het aangedring ek moet ‘n pak en ‘n das aantrek vir die begrafnis, om Oupa te eer. Ek haat ‘n das, en ‘n pak nog meer. Vir my was dit nonsens, hyt nooit ‘n saak daarmee gehad nie, en het my aanvaar soos ek is. En ek het hom elke dag van my lewe amper met dieselfde broek aan gesien – so verslonste broek wat hy in die tuin mee gewerk het. Growwe hande en al. Maar ek trek toe maar ‘n ou pak aan wat daar in ‘n kas gehang het.

Dit was vir my baie erg. Ek het buite die kapel se deur gestaan deur die hele diens - kon nie ingaan nie. Het saamgestap graf toe en gehuil soos ‘n blerrie sissie. Snot en trane. Het sy kis opgetel en graf toe gedra. Sand op die kis gegooi, want hy was ‘n man wat die sand liefgehad het. En hier kom die snot en trane alweer terwyl ek skryf, eks ‘n blerrie sissie vandag.

Sien, hy was soos ‘n pa vir my. Ek mis hom so, veral met die kinners - hy sou hulle ge-like het.

Link to comment
Share on other sites

Ek is seker hy sou hulle ge-like het...dankie vir die huldeblyk vir jou oupa.

Ons pa was 'n goeie pa en nog 'n jong 68 toe hy weg is, ek dink ook baie dae aan die onregverdigheid ( met die grootste respek gese) dat hy nie sy kleinkinders kan geniet nie...en nou sy eerste agter-kleinkind wat oppad is...

Link to comment
Share on other sites

Ai, om darm so 'n oupa te kon gehad het, wonderlik!!

My oupa is 95 jaar oud, en hy het ook al daardie dinge meegemaak. En sy verstand is nog so helder, asof dit gister gebeur het. Dit is vir my wonderlik dat my kiddies van 9 en 13 nog hul oupa-grootjie kon leer ken. Hy het 9 kinders gehad, en hordes kleinkinders, en net soveel agterkleinkinders, maar hy ken elkeen by die naam, ook die wat hy bitter min sien.

Ek haal my hoed af vir daardie geslag mense. Taai, maar opreg en standvastig!

Link to comment
Share on other sites

Ai, om darm so 'n oupa te kon gehad het, wonderlik!!

My oupa is 95 jaar oud, en hy het ook al daardie dinge meegemaak. En sy verstand is nog so helder, asof dit gister gebeur het. Dit is vir my wonderlik dat my kiddies van 9 en 13 nog hul oupa-grootjie kon leer ken. Hy het 9 kinders gehad, en hordes kleinkinders, en net soveel agterkleinkinders, maar hy ken elkeen by die naam, ook die wat hy bitter min sien.

Ek haal my hoed af vir daardie geslag mense. Taai, maar opreg en standvastig!

Jip, daar was lewenskwaliteite wat mens nie meer so baie sien deesdae nie. En dan preek ek vir myself ook as ek dit noem...

Link to comment
Share on other sites

Dankie, BB, goeie storie! :thumbdown:

Dax

Link to comment
Share on other sites

Vandag besluit om weer bietjie hier te kom loer. sien die storie is op en begin lees. Ek wou net deur scan maar haak toe vas.

Nou sit ek hier Biltong Boer en die trane loop...oor jou, oor jou Oupa............

Ek kon nie die laaste woorde sien nie, moes eers loop en trane afvee.

Memories are made of this....hou vas aan jou memories, dit maak van jou die mens wat jy is.

Dankie vir die verhaal uit jou verlede uit.

Groete,

Blossom.

Link to comment
Share on other sites

Vandag besluit om weer bietjie hier te kom loer. sien die storie is op en begin lees. Ek wou net deur scan maar haak toe vas.

Nou sit ek hier Biltong Boer en die trane loop...oor jou, oor jou Oupa............

Ek kon nie die laaste woorde sien nie, moes eers loop en trane afvee.

Memories are made of this....hou vas aan jou memories, dit maak van jou die mens wat jy is.

Dankie vir die verhaal uit jou verlede uit.

Groete,

Blossom.

Dankie, dit was moeilik om hieroor te skryf. Maklik aan die begin, baie uitputtend aan die einde. Ek het skoon moeg gevoel na ek die ding geskryf het.

Link to comment
Share on other sites

Sjoe, Biltongboer, wat 'n mooi verering vir jou oupa! Ek sit hier sommer sulke lekker groot snikke en gee en die oog- en neuskraantjies stroom voort.

Ek wens ek kon so swierig in woorde wees sodat ek vir my kleintjie ook kan vertel van haar oupa en ouma wat hopeloos te vroeg van haar weggeneem is (my ouers was albei 64 en my meisiekind net 1 jaar oud toe hulle oorlede is).

Ek was altyd so jaloers op my maatjies toe ek groot geword het, want sien, albei my oupas is vroeg uit my lewe uit: aan my pa se kant toe ek 1 jaar oud was en aan my ma se kant toe ek 6 was. Ek kan maar bitter min van hulle onthou. Hoe wens ek jou memories was myne!

Maar my grootste wens is dat my dogtertjie jou memories kon gehad het van haar ouma en oupa wat nie meer hier is nie, want my ouers was GOEIE mense. Baie goeie mense.

Jy was baie bevoorreg! En dankie dat jy dit met ons gedeel het.

Groete (al tjankende - nog steeds)

NicciG

Link to comment
Share on other sites

Dankie BB!

My pa is dood toe ek 10 was, en ek weet só hoe baie hy van sy skoonseun sou gehou het en hoe gek hy oor sy kleinkinders sou gewees het. Jy het my regtig aangeraak met jou huldeblyk.

Link to comment
Share on other sites

Dankie BB dat jy dit met ons gedeel het! Dit het beslis die hartsnare geraak! En nou verlang ek na my oumatjie, 86 jaar oud en bedleend na 'n beroerte in Desember. Ek onthou die dag wat ons haar gaan groet het voor ons Brisbane toe is - sy het so broos gelyk en het hart teen die trane baklei!! Nou vloei die trane!!

Groete,

Maritza

Link to comment
Share on other sites

Dankie BB, dankie dat jy vir ons hierdie pragtige post geskryf het sodat ons ook spesiale mense in ons lewe kan waardeer.

Ek het ook die voorreg gehad om so iemand te ken... Nee nie n pa of n oupa nie, want my pa is oorlede toe ek 9 was en ouma`s en oupa`s het ek nie geken nie want my ma en pa was al 40 en 51 toe ek my verskyning gemaak het.

Die persoon wat ek bevoorreg was om te ken was my skoonpa. Ek het my man op die internet ontmoet en hy was toe nog ook self in die Namib. (Party mans voer vir hulle vrouens van Rusland af in, maar ek het vir my n man van Namibia af ingevoer, goeie mense die Namib mense).

Ek het gaan kuier in Namibia want ons sou oorspronklik in Namibia gaan vestig het en toe het ek vir die eerste keer my aanstaande skoonouers ontmoet. Toe ons aanland in Namibia toe word my man (verloofde op daardie staduim) deur sy werk oorsee gestuur vir n kursus vir twee weke. Hier sit ek in n vreemde land, in n vreemde huis met vreemde mense om my. My skoonpa (die oom op daardie staduim) het vir my die lewe maklik gemaak, my eksamen lokaal toe geneem (my laaste eksamens sommer in die 2 maande vakansie in Namibia geskryf). Hy het elke aand saam met my in die kombuis gesit en gesels terwyl hy sorgvuldig aan sy seelversameling gewerk het, vir die eerste keer in my lewe het ek gevoel ek het n pa. n Wonderlike mens, net soos jou oupa, sy hande het ook vir NIKS verkeerd gestaan nie. Die noodlot was nie aan ons kant nie en hy het baie siek geword net nadat my man terug gekom het vanaf sy kursus en dit was hartverskeurend toe hy oorlede is n paar dae later.

Ek kan met trots vandag vir almal vertel, ek het vir daardie twee weke gevoel hoe dit voel om n pa te he, iemand waarna jy kan opkyk en waarmee jy alles wil deel. Ek wens dat ons tyd saam langer kon gewees het sodat ek by hom meer dinge kon leer en meer verhale kon hoor.

Nou is ons ook besig om te immigreer en los my ma van in die 70`s agter, dit maak mens se hart stukkend.

Louise

Edited by Stephen
Link to comment
Share on other sites

BB

Baie dankie dat jy die storie met ons gedeel het! Meeste mense praat mos maar nie oor sulke goed nie - hou dit maar diep hierbinne.

My ma is self oorlede toe ek 15 was. Ek kon glad nie huil op haar begrafnis nie. Kon nog nooit nie, nie eers tot vandag toe nie. Ek het lank skuldig gevoel daaroor. Ek weet tot vandag nog nie hoekom nie, want ek was regtig baie lief vir haar.

Wat my soms vrek hartseer maak is die feit dat sy nooit my kinders kon sien nie want sy sou mal gewees het oor hulle. Ek sien soms trekke van haar in my kinders en dan raak ek maar net stil.

Jy't regtig 'n besonderse oupa gehad. Jt was baie bevoorreg.

Jimmy

Link to comment
Share on other sites

Biltongboer dankie vir jou storie. Ek dink die meeste van ons het 'n oupa, ouma, ma, pa ens. aan wie ons sulke herinneringe kan koppel. Jou oupa Nico was voorwaar 'n ware man en ek s bly jy het sulke mooi herinneringe van hom.

Groete Bassons

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...