Jump to content

'n "Sad, Sad" storie


bienkie

Recommended Posts

:ilikeit: Vandag was weer een van daardie dae wat ek gewens het ek was maar eerder 'n dametjie wat ewe vriendelik by Pick & Pay agter die "till" gestaan het en wanneer haar dag se werk klaar was, huistoe gegaan het en eers weer die volgende dag aan haar werk gedink het. Maar nou ja, ek is nie. Ek is 'n maatskaplike werker en vandag was weer een van daardie dae wat my so laat wonder oor die lewe. Een van my kliënte was in Jan 2007 in 'n ernstige motorongeluk. Sy is 32j oud, ma van twee dogtertjies - een 3, ander een 10. Soos wat met so baie dames deesdae gebeur, was sy nie met een van die pa's getroud nie - hul "featurre" nie eintlik in die kinders se lewens nie. Sy was sowat 'n maand in 'n koma en as gevolg van die ongeluk het sy breinskade opgedoen. Nie so dat sy heeltemal gestremd is nie, maar so dat sy op die oog af baie "normaal" voorkom.

Vanoggend kom sy by my kantoor aan sonder afspraak. Sy wil graag met my gesels oor goed wat haar pla. Maak toe maar 'n tydjie om met haar te gesels - sy vertel van haar frustrasies, dat sy voel sy beteken niks meer nie, dat net haar klein dogterjie nog sê sy is lief vir haar. Sy het geheueverlies - kan nie veel van die ongeluk onthou nie. Vergeet ook maklik van dag tot dag se gebeure. Na sowat 'n halfuur het sy haar hart uitgepraat - ek probeer haar bemoedig, sê sy moet maar huistoe gaan en probeer rustig bly.

Vieruur vanmiddag kom haar pa inderhaas by die kantoor aan. Haar ma is op die selfoon (by die huis) en sy is besig om al die huis se vensters uit te breek. Almal is histeries en weet nie hoe om dit te hanteer nie. Dit het al voorheen gebeur dat sy sulke skielike woedeuitbarstings kry en sommer sonder rede haar huismense aanval. Ek probeer die ma kalmeer - sê ek sal die polisie bel sodat hul haar kan gaan haal en bring na die hospitaal. Skakel die hospitaal se superintendent en vra of hul haar sal opneem en moontlik sertifiseer sodat sy na Stikland Psigiatriese Hospitaal kan gaan.

Skakel die polisie en verduidelik die saak. "Goed Mevrou, ons stuur iemand uit". Jul moet nou weet dat die mense op 'n plaas op die rand van die dorp bly. Hul het nie 'n telefoon nie. Hul het ook nie vervoer nie. In hul twee slaapkamer huisie woon sowat 10 mense. Die ouma en ma van die huis se senuwees is gedaan want sy is deur 'n vorige geleentheid aangeval deur die kliënt van my. So sy weet nie eintlik hoe om die situasie te hanteer nie.

Kan jul glo. Die polisie kom daar aan en sê dis nie hul taak om haar te hanteer nie, daar moet 'n ambulans gebel word! Op daardie stadium het sy toe al 'n byl in die hande gekry en al die vensters van die huis gebreek! Ek is sommer woedend toe ek dit hoor. Die pa en oupa kom later weer paniekbevange na my kantoor. Die ouma is weer op die selfoon - sy het nou 'n mes in die hande gekry en sy is besig om haarself te sny daarmee!

Ai mense. Ek bel die polisie weer en verduidelik die dringendheid van die saak aan hulle. Geen reaksie. Op die ou einde het die pa en oupa sekuriteitsdienste by sy werk gevra om huistoe te ry en haar hopsitaal toe te neem. Ek is intussen besig om te probeer bel vir 'n ambulans. Soos dit in die liewe SA gaan, moet ek 'n nommer in die Kaap bel sodat die ambulans iemand in Stellenbosch kan kom oplaai!!! Sinneloos. En die "operator" aan diens kan nie Afrikaans verstaan nie (ook nie Afrikaanse straatname nie) - ek moes alles spel letter vir letter.

Om 'n lang storie kort te maak, sy is na die ongevalle by Stellenbosch Hospitaal. Haar een pols is raak gesny - gelukkig nie die are nie, maar daar is oral bloed. Sy sit so verwese en verduidelik dat sy net wil verstaan word, dat sy nie kan help sy het 'n "gat" in haar kop nie (stuk van skedel uit haar kop).

Wat dit meer hartseer maak is dat dit intussen uitgekom het dat sy sowat drie jaar gelede begin het om "tik" of amfetamien te gebruik. Die ouma vertel dat sy vermoed sy het die oggend geloop en gaan "tik" soek by ou vriende.

Terwyl ek vir die dokter in ongevalle wag, sit daar nog 'n jong meisie. Haar een pols is ook verbind en sy sit en huil droefgeestig. Die suster sê: " Jy was net te laat want daardie een is dieselfde storie".

Terwyl ek na die tyd huistoe ry, sit en dink ek aan die lewe en hoe dikwels mens so ondankbaar en onvergenoegd is oor mens se lewe. Terwyl mens in werklikheid so geseënd is en alle geleenthede voor mens lê.

Jammer al die forumiete vir die ou "sad" storie. Iewers moet mens ook maar 'n uitlaatklep hê. Geniet en waardeer elke dag en leef dit voluit! B)

Link to comment
Share on other sites

Bienkie, julle doen wonderlukke werk, dit moet een van die mooielukste propessies wees. Sterke B)

Link to comment
Share on other sites

Bienkie, I would like to salute you for the job you do! I really do admire you! Sterkte!

Link to comment
Share on other sites

Bienkie,

Dis mense soos jy wat ek bewonder...vir die onbaatsugtige werk wat jy doen. Lyk my jou hartjie is vreeslik klein en die mense se swaarkry raak jou erg. Soms moet mens maar bietjie "af" vat anders kry jy net so seer in die proses. Jou verhaal laat my opnuut dankbaar voel vir al die voorregte wat ek in die lewe geniet.

Jy moet 'n mooi dag he, ek dink aan jou.

Liefde,

Betsy :)

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...