Jump to content

Diepe waters en diepe dinge


5vannemerwea

Recommended Posts

Ek was so bietjie stil die laaste paar dae. Kinders grootmaak is nie kinderspeletjies nie. My oudste het ek nou amptelik herdoop. Hy sal voortaan bekendstaan as Woelwater. Hy is nogal heel in sy noppies met sy nuwe naam!! Raai wie kom van Suid Afrika af!!!

Ek sien dat Biltongboer en ek met die dood gedreig word. Lyk my ons ontvlug ook nie die swaard oor ons koppe nie :) . Dit is die dat besluit het nou maak ek plan om weer so nota of twee neer te kribbel.

Ek is nogal heel Jannetjie met myself. Ek het die visvang ding nou onder die knie gekry. Die lyn, hoek, sinker en die aas trek saam in dieselfde rigting en land op dieslfde plek waneer ek gooi. Tyd het ek tans meer as genoeg om al die aspekte van 'n volwaardige visserman te be-oefen. Ek hou baie van strand vang. Die rotse storie staan my nie veel aan nie.

Maandag het ek die grootste deel van die dag op die strand deurgebring. So bietjie nat gereen, dan warm en dan koud gekry. Vissermanne bly by hulle stok en trek nie kleinkoppie nie!!! :) . Sjoe, dit het my herinnering BAIE ver terug gevat. Terug na my laerskooldae. Outjo se dae. Die dae toe ons vir Desembers Jakkalputz toe gery het met pa se Land Cruiser, karavaan gehak en dou voor dag die pad kus toe gevat het deur die Namib

Op die Kalkfonteinpad het die son net oor die rante begin loer. Dan is daar gestop, toebroodjies geeet en koffie gedrink. Nie te lank nie want die see is nie net om knik se draai nie, hy le om lang se draai. Jakkalsputz is die paradys vir kinders. Eenkant die see en agter jou die woestyn. Ons het geswem, sandkastele gebou, wegkruipertjie gespeel en "cowboys and crooks". Dit was al Engels wat ek daaityd geken het, "cowboys and crooks". Die son het ons soos Rehoboth inboorlinge laat lyk ;) . Daardie dae vas velkanker nognie uitgedink nie en ook nie 'n probleem nie.

Die visvangdae was vir ons kinders hemel op aarde. Soggens vroeg, weereens, is vistokke, tafels, stoele, kos en alles wat ons die dag sou benodig in die 4x4's gelaai en die pad noord aangevat. Soms sommer op die strand langs, soms deur die woestyn. Iewers het pappa besluit hier is die plek waar die blinklywe swem. Ek wens ek het vandag geweet hoe het hy dit geweet. Eers is laer getrek, windskerms vir die vrouens en kinders, grondseile, tafels, gasstofies, die toetie. Ons moes altyd aas soek terwyl die grootmense staan en visvang. Jy gaan staan op 'n plek waar die water van die branders so kom en gaan. Dan wikkel jy jou voete heen-en-weer sodat jy in die sand wegsak. Teen kuitdiepte klim jy uit en probeer so twee tree verder weer. Witmossels was die prys. Ons het letterlik emmersvol uitgehaal. Waneer die verantwoordelikheid afgehandel is het ons die duine gevat. Langs groot dele van Suidwes se strande is daar groot duine al met die kus langs. Die uitdaging was om so gou moonltik bo te kom en dan weer so gou moontlik weer onder, ;) , kinders darem. Die laaste paar meter het jou lyf meer spoed opgetel as wat jou voete duin-af kan produseer en 'n natuurlike verskynsel doen homself voor. Die gat-oor-kop verskynsel. Dat ons nie ons nekke gebreek het nie was net 'n wonder. Dit is seker hoekom ma in die skuiling sit en pa OBS drink terwyl hy visvang. Na die g-o-k- verskynsel was jy van der sand op plekke wat jy nie gedink het sand kan kom nie. Direk see toe om dit eers af te was en dan dadelik weer die duin op. Soms net vir 'n toebroodjie met grondboontjiebotter en konfyt gestop.

Nou staan ek langs die viswaters. Nie aan Suidwes se weskus nie maar, aan Australie se ooskus en die volgende gedagte kom by my op. Hier kom die diep dinge nou. Kyk, 'n man kan mos ver staan en dink so langs die waters - voedsel vir elke man se siel. Van die weskus van Suidwes, deur die bosveld, Vrystaat en Kalahari tot by Eden. Nee ek is nie dood nie, dit is die dorpie se naam. Oor 30 jaar vandaar tot hier, wie is ek, wat het ek en wat maak saak? Watter identiteit eien ek myself toe? Die sterk patriotistiese hart van my, watter vaandel wapper oor hom? Watter erfenis erf my seun, die naamdraer van my? In ons tydjie op aarde, waar pas ons in en waarheen kanaliseer ek my energie en tyd? Huh? Se jy vir my.

Ek is gelukkig in Australie en ek gaan hier bly, tog gee Bok se "De La Rey" my nogsteeds hoendervleis. Die ding het my al begin krap die dag toe ek in Suid Afrika van my besittings begin ontslae raak om te te trek. Wat vat ek saam, wat bly? Wat het waarde en wat nie? Kyk, ek is 'n boekwurm, ek sukkel om verby 'n goeie boek te loop. Ek kom beslis nie my hele boekrak saamtrek nie, ernstige seleksie moes plaasvind. Einde laas het ek 'n winkeltrollie (met vaste agterwiele) vol boeke, wat volgens my waardevol was, vir R250 aan een winkeltjie afgesmeer. Die kattebak en 'n half vol wat oorgebly het, het ek so paar van weggegee en die res by ons plaaslike CVO skool gaan aflaai. "Gebruik en hou wat julle kan en verkoop die res vir "waste paper" vir 'n rand of twee" Dit het vir my gevoel of ek my identiteit weg gee. Dit wie en wat ek is. Met die gedagte kon ek nie slaap in die aande nie. Hoe kan mens dit wat jy is, weggee. Dit is mos ontoelaatbaar.

Hier langs die branders waar ek staan en peins en die seemeeue my aas steel kom ek tot die volgende slotsom en antwoord op die vrae. My identiteit is nie in wat ek besit nie, nie wat ek ry nie en ook nie die land wat ek in woon nie. Materiele dinge wat van belang is, is slegs die wat my identiteit bepaal. Dit maak die lysie kort van belangrike aardse dinge. My identiteit is in myself, in my gesin en my naby mense om my. Hulle en ek bepaal wie ek is. So maak ek deel uit van Vroulief se identiteit en menswees. Die kar wat ons ry, die huis wat ons in bly, die land waarop ons loop en die taal wat ons kleinkinders gaan praat is irrelevant. "Ons burgerskap is egter in die Hemele en ons is bywoners hier op aarde."

Dit was Maandag. Die visvang het nie veel vir die pan opgelewer nie. 'n Hele klompie visse was te klein vir die pan en so paar was te groot vir die pan. Moes toe lee hande terugkeer huis toe. Woensdag was te nat en koud. Donderdag namiddag is ek strand toe en binne drie minute trek ek toe my eerste Australiese groot blinklyf uit die water!! Vanaand was hy oond toe met botter, knoffel, speserye en suurlemoensap. Manne, ek se vir jou vingerleklekker!!!!!!!

Lekker, net soos die lewe hier in Ozland.

Groete

Martin

Edited by 4vannemerwes
Link to comment
Share on other sites

Martin, soos ek lees kry ek eers die knop in die keel, toe op die maag van my boeke wat ek sal moet mee wegdoen. toe kom die besluit, nee, my boeke gaan saam (ekstra container of te not), toe besef ek, soos jy, dis dalk nie so belangrik nie. Ai tog. As ek nou net by die punt kan kom waar ek die flippen goed in die container kan inpak.... ;):)

Dankie anyway vir die post. :)

Link to comment
Share on other sites

Dankie Martin

Ek sit nou met hoendervleis en trane in my oe want jy het so pas vir my ook 'n hele paar vra beantwoord oor wie ek is.

Baie dankie weer vir 'n lekker lees.

Sien uit na die volgende een.

Wilma

Link to comment
Share on other sites

Ek het nou die dag presies R250 vir my boks vol boeke gekry - weet presies waarvan jy praat... :blink:

Link to comment
Share on other sites

Dit sal vir my maar bitter swaar wees om my boeke te los, elkeen is dan met sorg gekies en met afwagting en opwinding gekoop !! Ek dink op die ou end vat ek net klere, boeke en 'n paar potte en panne. Dis dit. En my duvet. Daar is nogal baie dinge wat jy glo deel van jou definisie van jouself is en hierdie immigrasie-ding dwing mens tot herevaluering van jouself. Konsolidasie van jou identiteit tot net een sin, in plaas van 'n paragraaf vol ekstra's. O ja, my verf en kwaste gaan saam. En naaldwerkmasjien. Als wat my by my sinne sal help hou tot ons ge'settle' is...

Link to comment
Share on other sites

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...