Jump to content

Emigrasie is nie grappies nie


Lmari

Recommended Posts

Die laaste een kom van Marinus Wijnbeek. Lesers sal hom moontlik onthou van die dae toe TV in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene was. Hy het "Die Brandkluis" aangebied. Hy het gesê dat ek dit nie anoniem hoef te plaas nie: Emigrasie is nie grappies nie. Iewers bly daar altyd gate in jou siel oor. Dit is onvermydelik en bly jou lewe lank by jou. My eerste emigrasie-ervaring was as negejarige kind na die destydse Unie van SA. Dit was 1949. Suid-Afrika was die land van ons hoop en verwagtings, van beter ekonomiese moontlikhede en vooruitsigte - so het my ouers ons geleer. Dit het alles waar geword. Ons het na 'n paar jaar se swaarkry goed begin lewe en ons kon almal gaan studeer en goeie loopbane oopkap. My ouers het die moeilikste aangepas maar hulle WOU, dus het hulle. My Pa het volstoom vir die land en sy dinge gegaan. Ons as kinders ook. Al vier van ons is met Afrikaners getroud, het Afrikaans ons huistaal gemaak, by Afrikaanse kerke ingeskakel, burgerskap gekry en vir die "regte" party gestem. Ons het geprobeer om (Suid) Afrikaners te word. Of ons almal, volgens ons Afrikaner landgenote, in die strewe geslaag het is 'n ander saak. Ons het Kaaskoppe gebly - nie in ons eie oë nie, nee, in die oë van hulle waarmee ons wou identifiseer. So het elkeen van ons maar ons eie besluite geneem om die probleem te verwerk. Ek het in 1978, na die eerste besoek aan Nederland na ons emigrasie, besluit om te bly wat ek is. Of die Boere nou Kaaskop gesê of gedink het was van tweede belang. Dit het baie gemoedsrus gebring. Alhoewel die werklikhede van Afrika altyd in die agterkop gesit en woel het, was dit te verdiskonteer teen "doen die regte ding en alles sal regkom." My nege jaar in die onderwys vir swartes waarheen ek uit idealistiese oorwegings gegaan het, was skok nommer een. Die kampusgeweld en die spannings was iets vreeslik. Daarna het my gelukkige periode by die toenmalige SAUK se nuusdiens gevolg. Dit was oë oopmaker nommer twee. Die kulminasie was die van die verkeerde kant inkyk in die loop van 'n 9mm pistool by Wynberg, Johammesburg, op 29 Februarie 1996. Op 1 September 1996 het ons op Schiphol aangekom en ons is steeds hier. Hartseer? Ja. Terugkeer? Nee. Was ons gelukkig in Suid-Afrika? Ja baie. Verlang ons somtyds terug? Ja. Hoe? Ek na die land (die Karroo anderkant Colesberg), en my Boerenooi eggenote na haar mense. Die soet klank van Afrikaans klink steeds in ons huis en saam met die kinders. Wil ons terug na die huis agter die hekke, die alarmsisteem, die staal voor die vensters en die deure, die gevaar van slagoffer word van 'n roof of moord? Nee. Hier tussen die Nederlanders is ek nou 'n "Suid-Afrikaner." Nogal 'n verandering van Kaaskop na Suid-Afrikaner en dit alles binne een leeftyd. Ons ken baie Suid-Afrikaners hier en almal het las van heimwee. My raad aan hulle is die volgende: wees nugter. Gaan sit saam met jou vrou en skryf al die redes op 'n ry op waarom julle indertyd na Nederland gekom het. Bel dan 'n goeie vriend of familielid in die RSA wat ewewigtig na die sake kyk en vra hoe sake nou staan ten aansien van al daardie punte. Neem dan 'n besluit. Ons hele gesin het die kerk in die buiteland opgesoek en gevind. Natuurlik. God is orals en Sy kinders ook. Neem ons deel? Natuurlik, want Sy kinders lewe mos deur Sy Gees? Orals! En die lewe van elke dag? Dit is goed en rustig. Die swembad is weg en die braaivleis min. Die son skyn gemiddeld twee uit elke drie dae van die jaar. Daarmee kan ons saamlewe. Die veiligheid, die ekonomiese sekuriteit, die pragtige omgewing, die uitdaging van nuwe omstandighede en indrukke - dit laat mens opnuut lewe. Dit het ons 'n halwe leeftyd gekos om te besef dat Afrika swart is en sal bly. Die Afrikaners en blankes is kulturele "bywoners" wat veel gedoen het, maar aan die einde van die dag nie "van Afrika" is nie, ook al lê Pa en Ma en oupa en ouma en oeroupa en oerouma daar begrawe. Vir ons wegtrekkinders en veral kleinkinders is dit beter so. Hulle is nou klein Kaaskoppies, klein Kanadesies en klein Aussies. So is dit. Van my familielede in die RSA beskou ons as drosters en landverraaiers. So is dit ook nou maar. Is daar hartseer in ons harte? Ja, baie. Is daar dankbaarheid in ons harte? Veel meer! Ons voel ons regtig baie bevoorreg om te mag wees waar ons is. Dit beteken wel, soos my oupa altyd gesê het, dat jy jou oë moet oopmaak en waarneem! Dan sien mens die hand van die Here orals, ook in die nie te ontwyke hartseer en verlangens.

~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Ons gesin het ons geboorteland vaarwel toegeroep Junie 2006. Die dag, 1Junie 2006 toe ek van die vliegtuig afgestap het in Brisbane, Australië, met my twee kinders, sal ek nooit vergeet nie. Die wete dat ons hul wortels gelig het en hulle nou vol verwagting in ons oë kyk vir wat hierdie nuwe lewe hulle gaan bied. Gaan dit beter wees as wat hulle geken het tot op hede? Die gemis aan die maatjies is erg. Hulle kan nou nie meer sommer net inval vir 'n lekker speel nie. Die trane was daar, laat in die nag, as dit stil raak en die verlange begin knaag. Maar sodra die son sy kop uitsteek en 'n nuwe dag begin, straal die gesiggies en die ontdekkingsreis begin van voor af. Dit is nou agt maande later en ons kyk nie een dag terug nie. Dit is swaar, ja, enige verandering is swaar, maar dan vra jy jouself af waarom jy die paadjie aangedurf het, en dan kom die rustigheid vanself. Jy doen dit vir jou kinders wat jy in gebed aan God toevertrou het en jy weet dit is die pad wat Hy vir jou aangedui het. Die lewe hier is so anders, maar so lekker. Geen vrese meer vir geluide in die middel van die nag nie. Geen gewapende wagte, agt voet mure, elektriese heinings, alarms nie. Hier grens ons huis aan 'n wildreservaat en is nie eens omhein nie. Die kinders speel elke middag buite in die straat, ry fiets, 'scooter', speel krieket, skop bal, en al die buurkinders speel saam. Om elke middag die kinderstemmetjies te hoor uitgil van plesier is 'n fees! Geen TV meer nie, hulle stel net nie meer belang nie, dit is dan so lekker buite. Nee, ons kyk beslis nie terug nie, sal nooit kan terugkeer na ons ou manier van leef in Johannesburg nie, al raak die gemis erg, dan bel jy maar, of stuur 'n paar e-posse. Die gemis sal nooit weggaan nie en die gedagtes hardloop baie terug na die Krugerwildtuin toere, die sorgvrye somers by die strandhuis in Paradysstrand, die staptogte in die Drakensberge, die Kango-grotte, Knysna, die Tsitsikamma-woude, daar is soveel natuurskoon in ons land, maar die donker alewige teenwoordigheid van die bloeddorstige misdadiger het dit in elk geval vir ewig ingesluk. Geen mens kan dit meer sorgvry geniet nie, jy is omring deur die ewige risiko van: "wat as"? Daarom maak ek 'n gelukkige tuiste vir my man en my twee engeltjies en weet ek in my hart ons sal dit maak, want ek weet dit is die regte pad.

Link to comment
Share on other sites

Lmari - dankie. Jy sê dit net soos ons dit in ons harte voel.

Moedhou en baie drukkies, want jy weet klaar dis die moeite werd.

Dis dapper mense wat 'vlug' vir 'n beter toekoms.

Ons is net dankbaar dat ons kan.

Link to comment
Share on other sites

Al wat ek kan sê oor Marinus Wijnbeek is dat daar wel 'n groot doel met sy "tydelike" verblyf in Suid Afrika was: Tot vandag toe nog onthou ek daardie TV program: "Die Brandkluis", dit kan seker geklassifiseer word as my gunsteling program in my hele kinderjare. Die saadjie wat hy in my lewe geplant het as jong seuntjie het gemaak dat ek van kleins af gretig in die Wetenskap belang gestel het. Hy het 'n nuwe wêreld vir baie van ons oopgemaak deurdat hy ons nuuskierigheid en verwondering oor die wetenskap vêr verby 'n skoolvak geneem het. Dit was HEEL WAARSKYNLIK as gevolg van hom dat ek later in 'n natuur wetenskaplike/wiskundige rigting op Universiteit gaan swot het. Hy beklee 'n plek vir my langs mense soos Prof. Strauss (wat op RSG se "Hoe verklaar jy dit" was). Ek het nog altyd gewonder wat het van hom geword en ek is so bly om te hoor hy leef nog. Ek doen nou dieselfde met my eie kinders...leer hulle van vroeg af allerhande "Eksperimente" soos wat Marinus vir my gedoen het as kind. Soos byvoorbeeld "My groot eksperimente boek [2005]"

My seuntjie praat al op 7 jarige ouderdom hoe hy eendag ruimteskepe wil bou...

Na 7 jaar by Tukkies en 9 jaar in allerhande IT velde volg ek nou ook jou voorbeeld Marinus, want my kinders se toekoms is vir my te kosbaar om toe te laat dat hierdie vlammetjie van verwondering in die natuur en die wetenskap in hul harte deur geweld en vrees uitgeblus word. Australie hier kom ons....

Link to comment
Share on other sites

mense, dis nou interessant. Ek het 2 maande gelede in die motor gery en toe kom Hein Kruger aan die beurt met sy gereelde finansiele program en siedaar, hier skakel hy vir Marinus en hulle gesels so lekker oor Nederland en emmigrasie (niks oor finansies nie); weet nou nie hoekom nie. Ek het ook dadelik terugedink aan Brandkluis. Hy kon dinge so opwindend laat klink. EK moet egter beig dat ek nie eintlik enigiets onthou het nie, maar die hoofsaak is dat ek geleer het dat daar mense is wat hulle werk geniet en dat alles wat gekompliseerd blyk te wees nie noodwendig so is nie, as jy 'n liefde vir die saak het (amper soos my vrou dink ek nou skielik - so dalk is dit te danke aan Marinus dat ek gelukkig getroud is!!!).

Link to comment
Share on other sites

  • 13 years later...

Join the conversation

You can post now and register later. If you have an account, sign in now to post with your account.

Guest
Reply to this topic...

×   Pasted as rich text.   Paste as plain text instead

  Only 75 emoji are allowed.

×   Your link has been automatically embedded.   Display as a link instead

×   Your previous content has been restored.   Clear editor

×   You cannot paste images directly. Upload or insert images from URL.

×
×
  • Create New...